Namibiese gesondheidswerkers in gebed opgedra

Gesondheidswerkers omhels in die venster van die Paramount-hospitaal in Windhoek, Namibië. (Foto: Christo Gous via Kanaal 7/Facebook)

Verskeie Namibiese motorfietsklubs het Saterdag hospitale in die hoofstad, Windhoek, besoek om vir gesondheidswerkers te bid wat onder groot druk verkeer sowel as Covid-19-pasiënte wat in hospitale teen die virus veg.

Namibië gaan tans net soos Suid-Afrika gebuk onder ʼn derde vlaag van Covid-19-infeksies.

Die Namibiese Kanaal 7 berig motorfietsryers het onder meer die Lady Pohamba-private hospitaal, die Rooms Katolieke-hospitaal en die Paramount Health Care Centre besoek terwyl die gemeenskap van Swakopmund, wes van Windhoek, ook byeengekom het om vir die genesing van Covid-19-pasiënte te bid.

’n Aangrypende foto van twee Namibiese gesondheidswerkers wat mekaar in ’n venster van die Paramount Health Care Centre in Windhoek omhels word sedertdien op sosiale media gedeel. Die foto het reeds meer as ’n 1 000 interaksies op Facebook ontvang en is deur honderde gebruikers gedeel.

“My hart,” skryf een sosialemediagebruiker terwyl ander gesondheidswerkers vir hul heldhaftigheid bedank het.

Luidens die Namibiese departement van gesondheid se jongste verslag is 2 428 nuwe bevestigde gevalle in die laaste siklus van 24 uur in dié land aangemeld.

Die land se positiwiteitskoers staan tans op 56% wat beteken dat die helfte van Covid-19-toetse in dié stadium positief terugkom.

Covid-19-gevalle word tans in al 14 van Namibië se streke aangemeld waarvan die helfte in die Khomas-streek aangeteken is.

Luidens die verslag is 40 nuwe sterftes in nege streke van die land aangemeld met meer as 18 000 aktiewe gevalle tans in Namibië.

Altesame 83 698 mense in Namibië het nou reeds positief getoets vir Covid-19. Die land se dodetal staan tans op 1 345 hoewel meer as 63 000 Namibiërs al van die virus herstel het.

Foto’s en inligting met vergunning van Kanaal 7

Motorfietsryers bid vir gesondheidswerkers van die Rhino Park-private hospitaal in Windhoek. Foto: Kanaal 7/Facebook)

Motorfietsryers kom byeen in Windhoek. F)oto: Kanaal 7/Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Kokerboom ·

Baie sterkte aan ALLE gesondheidswerkers. Bly in Namibië en sake is nogal bekommeringswaardig!!

MakersMark ·

Aangrypend. Wat se massiewe stres ervaar die mense elke dag ?

Daleen ·

Daar was dieselfde gedoen verlede jaar by Suid-Afrika se hospitale – dit het soveel vir die personeel beteken. Doen dit asb weer want die emosies loop huidiglik hoog en die moraal is laag. Net God se genade gaan ons deur die pandemie kry.

Marius Gerhardus ·

Ken mense in Windhoek. PA en MA positief. Kinders mut nou na hulle om sien. Nie eers plek in hospitale. Ma kry elke 4 ure suurstof by die huis deur ambulans mense gelewer. En hulle skaars meer as 2400 gevalle. As dit nou 10 000 of so word…… Wats hulle plannetjie dan met hospitalisasie? Of sal dit dalk net makliker wees om sterftes te tel….. ????

Celeste ·

Sjoe dis n mooi gebaar. Ek kan my nie indink hoeveel emosionele stress die gesondheids werkers moet deurgaar nie. Hoe hulle sielkundig sterk moet staan na hulle elke dag die dood in die oe moet staar. Mensig al die werkers is ons hero’s, Ons kan net dankie se dat hulle daar is vir ons geliefdes in die hospitaal in tye wat ons hulle nie kan besoek nie. Baie Baie Dankie!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.