Negejarige beseer toe skote in winkelsentrum klap

(Argieffoto: Max Kleinen)

ʼn Negejarige meisie is vandeesweek by die Mall of Victor Valley-winkelsentrum in Kalifornië in die VSA beseer toe ʼn skoenwinkeleienaar glo skote op vermeende diewe afgevuur het.

CBS News berig dat die 20-jarige Marqel Cockrell twee winkeldiewe uit Sole Addicts wou verjaag toe hy Ava Chruniak drie keer raakgeskiet het. Haar ouma, Robin Moraga-Saldarelli, sê haar kleindogter was op pad om ʼn foto by die sentrum se paashaas te laat neem. Sy is ná afloop van die voorval met ʼn helikopter na ʼn hospitaal vervoer.

Een van die koeëls het ʼn been in haar arm gebreek wat nie deur ʼn operasie herstel kan word nie.

“Dit sal nog ʼn rukkie neem voordat die been vanself herstel en dan sal ons kan sien wat die omvang van die senuweeskade is. Sy is egter ʼn soldaatjie – ʼn tawwe klein meisie,” het Moraga-Saldarelli aan internasionale media gesê.

Volgens owerhede is Cockrell Woensdag, ʼn dag ná die voorval, in Nevada in hegtenis geneem nadat hy uit Kalifornië gevlug het. Hy word nou van poging tot moord aangekla.

Die winkelsentrum was ook vir ʼn dag lank gesluit. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.