Nog ʼn haai-aanval in Aus

Nick Slater.

Die owerhede in Australië se Goudkus ondersoek of ʼn dooie tierhaai wat in haainette gevind is, dieselfde haai is wat ʼn branderplankryer vroeër aangeval het.

Nick Slater (46) is Dinsdag noodlottig gewond nadat hy in die see by Greenmount-strand deur ʼn haai aangeval is.

Jade Parker was op pad om die see binne te gaan toe hy Slater gesien het waar hy bewegingloos naby sy branderplank gedryf het. Parker het die see ingegaan en ander branderplankryers en lewensredders gehelp om Slater na die strand te bring. Daar het ʼn haaitand in sy branderplank vasgesit.

Paramedici het Slater, ‘n eiendomsagent, op die strand dood verklaar. Dit is slegs die tweede noodlottige haai-aanval by een van Queensland se 85 strande waar daar sedert 1962 haainette in die see is. Die eerste aanval was in 2006 toe ʼn 21-jarige swemmer deur ʼn bulhaai aangeval en noodlottig beseer is.

Greenmount-strand. (Foto: David Clark/AAP via AP)

Annastacia Palaszczuk, Queensland se premier, het gesê ʼn groot dooie tierhaai is ná die aanval op Slater in haainette in die see naby Greenmount-strand gevind. “Verdere ondersoek sal gedoen word om te kyk of daar ʼn verbintenis is met die noodlottige aanval.”

Daar was in Julie twee noodlottige haai-aanvalle in Australië. ʼn 15-jarige seun is dood toe hy deur ʼn haai aangeval is terwyl hy branderplank gery het noord van Sydney in Nieu-Suid-Wallis. ʼn 20-jarige skubaduiker is dood toe hy deur ʼn haai aangeval is in die see by Fraser Island in Queensland. Zachary Robba (23) is in April vanjaar in dieselfde gebied in ʼn haai-aanval dood.

Die jongste haai-aanval was minstens die sesde noodlottige haai-aanval vanjaar. Haai-aanvalle is nie ongewoon in Australië nie en eis gemiddeld drie mense per jaar. Daar was egter in 2014 laas meer as vyf noodlottige haai-aanvalle in een jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.