Nóg ʼn ondersoek na joernalis se dood kom glo

Die veteraan joernalis Shireen Abu Akleh is in Mei in Jenin doodgeskiet. (Foto: AFP)

Die VSA se departement van verdediging het na bewering ʼn onafhanklike ondersoek na die joernalis Shireen Abu Akleh se dood in Israel vroeër vanjaar van stapel gestuur.

Die Israeliese owerhede gaan egter geen samewerking aan die ondersoek gee nie, aangesien hulle reeds hul eie onafhanklike ondersoek gedoen en bevind het die betrokke soldaat het nie opsetlik opgetree nie.

Akleh (51) was ʼn veteraanverslaggewer van Al Jazeera toe sy in Mei vanjaar doodgeskiet is. Sy is vermoedelik deur ʼn Israeli-soldaat geskiet terwyl sy ʼn Israeliese leëraanval in die stad Jenin in die noordelike Wesoewer gedek het.

Volgens die politieke nuusagentskap Politico het die VSA se departement van verdediging ʼn onafhanklike ondersoek na Akleh se dood van stapel gestuur.

Dít nadat ʼn ondersoek reeds vroeër vanjaar deur twee lede van die span van die Amerikaanse veiligheidskoördineerder (USSC), wat met die Palestynse owerheid skakel oor veiligheidsbystand, uitgevoer is. Hulle het daarin bevind dat Akleh glo nie opsetlik geskiet is nie.

Die FBI het vandeesweek versuim om die ondersoek in die media te bevestig, maar Akleh se geliefdes het reeds hul waardering daarvoor uitgespreek.

“Dit is ʼn belangrike stap,” het die Palestyns-Amerikaanse familie in ʼn verklaring gesê en bygevoeg dat hulle hoop vir ʼn “werklik onafhanklike, geloofwaardige en deeglike ondersoek”.

Akleh se familie vra vanaf die staanspoor dat die VSA ʼn ondersoek gelas.

“Dit is wat die VSA moet doen as ʼn Amerikaanse burger oorsee vermoor is, veral wanneer hulle, soos Shireen, deur ʼn buitelandse weermaglid doodgeskiet is.”

Benny Gantz, Israel se minister van verdediging, het intussen gesê dat Israel geensins hierdie ondersoek ondersteun nie.

“Amerika se besluit om ʼn ondersoek te doen na die tragiese heengaan van Shireen Abu Akleh is ʼn fout,” het Gantz in ʼn verklaring gesê.

“Die IDF (die Israeliese weermag) het ʼn professionele, onafhanklike ondersoek gedoen, waarna die bevindinge aan Amerikaanse amptenare gestuur is.”

Akleh het ten tyde van haar dood ʼn koeëlvaste baadjie gedra wat aangedui het dat sy ʼn lid van die media is. Sy het ook ʼn helm gedra toe sy in die kop geskiet is in die Jenin-vlugtelingkamp, ​​ʼn geskiedkundige brandpunt in die Israelies-Palestynse konflik.

Die Israeliese weermag het in September toegegee dat een van sy soldate Akleh waarskynlik geskiet het nadat hy haar as ʼn militant misken het.

Geen vervolging ingestel

(Foto: AFP)

ʼn Prokureur vir Israel se weermag voer aan dat daar destyds geen vervolging teen die betrokke soldaat ingestel is nie, aangesien die individu opgetree het in wat Israel as “ʼn aktiewe gevegsone” beskou het.

Die eerste minister van Israel, Yair Lapid, stem saam met hierdie besluit.

“Ek sal nie toelaat dat ʼn IDF-soldaat wat homself teen sy vyand beskerm het, vervolg word net sodat ons op internasionale vlak toegejuig kan word nie,” het hy gesê.

Akleh se familie en kollegas het verlede week aan VN-ondersoekers gesê dat sy wel doelbewus geteiken is as deel van Israel se “grootskaalse oorlog” teen Palestynse mediawerkers, en het gevra vir aanspreeklikheid en geregtigheid om te geskied.

Die Doha-gebaseerde Al Jazeera en die Qatari-staat het ook beweer dat Akleh doelbewus deur Israeliese soldate geteiken is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jan Seerot ·

“Ek sal nie toelaat dat ʼn IDF-soldaat wat homself teen sy vyand beskerm het, vervolg word net sodat ons op internasionale vlak toegejuig kan word nie,” het hy gesê.

Dis goed, want dit bewys dat “hulle van staal gemaak” is. Die IDF gaan nie omval en dood speel nie. “It did not start in Calfornia” vir die IDF nie.

Hennie ·

As jy tussen Palestyne wil rondstap wat klippe ens na gewapende soldate gooi, moet jy weet daar’s n kans dat jy gaan seerkry

Republikein in die Wes Kaap ·

Rusland gaan seker die skuldige wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.