Noodtoestand in Tennessee weens tornado

Honderde geboue is deur die tornado in Tennessee verwoes (Foto: Mark Humphrey, AP)

Tennessee het ’n noodtoestand verklaar nadat minstens een tornado en winde van 165 km/h Dinsdag in die vroeë oggendure dié Amerikaanse deelstaat getref het. ʼn Soek-en-reddingspoging is van stapel gestuur en reeds 24 sterftes is teen Dinsdagaand aangemeld.

Sowat 47 000 mense is Dinsdagoggend sonder elektrisiteit gelaat met talle geboue wat deur die tornado beskadig is.

Randy Porter, burgemeester van Putnam County in Tennessee, sê die tornado het hulle so vinnig getref dat talle inwoners nie kans gehad het om na veiliger gebiede te vlug nie. CNN berig inwoners het slegs ses minute gehad om skuiling te vind.

Altesaam 18 sterfgevalle is in Putnam County aangeteken en 38 mense word steeds vermis.

‘n Inwoner help om op te ruim na die tornado verwoesting gesaai het (Foto: Mark Humphrey, AP)

ABC News berig die tornado het die hoofstad Nashville getref en sowat twee sterfgevalle is aangemeld. Groot skade is veral in die voorstad Mt. Juliet, oos van Nashville, aangerig en vliegtuie by die John C Tune-lughawe in Wes-Nashville is deur die tornado verwoes.

John Cooper, die burgemeester van Nashville, sê hoewel die skade verwoestend is, het inwoners reeds ingespring  om hul gemeenskap uit die verknorsing te help. “Ons gaan nie toelaat dat dit ons onderkry nie, ons gaan alles weer herbou,” het Cooper aan ABC News gesê.

‘n Soek-en-reddingspoging is van stapel gestuur om vermiste persone op te spoor (Foto: Mark Humphrey, AP)

Die ander sterftes is in die Wilson-, Davidson- en Benton-streke aangemeld. Daar word steeds heelwat mense vermis.

Maroela Media het vroeër berig skole, howe en vervoerstelsels is Dinsdag in Nashville gesluit hoewel stemlokale by skole oop bly vir die publiek. Vier stemlokale is wel na ander plekke geskuif.

Tennessee is een van 14 Amerikaanse deelstate wat in Super Dinsdag stem vir ’n Demokratiese kandidaat vir November se presidentsverkiesing.

Bronne: CNN, ABC News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Leon ·

Dit help ook nie weens die feit dat die huise van planke aanmekaar gesit is nie. Dit bied ook nie veel weerstand teen die wind nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.