NS wil sigarette vir toekomstige geslagte verbied

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Nieu-Seeland beoog om rook uiteindelik in dié land te verbied deur die ouderdom waarop tabakprodukte gekoop kan word, geleidelik op te hef. Dit beteken dat vandag se tieners in Nieu-Seeland nooit sigarette wettig sal kan koop nie.

Die land verbied tans die verkoop van tabakprodukte aan mense onder die ouderdom van 18 jaar.

Ayesha Verrall, medeminister van gesondheid, het Donderdag aangekondig dat dié ouderdomsverbod vanaf 2027 jaarliks ​​met een jaar verhoog sal word om die volgende generasie rookvry te hou.

Verrall het dié aankondiging as “’n geskiedkundige dag vir die gesondheid van ons mense” bestempel.

“Ons wil seker maak dat mense nooit begin rook nie. Namate hulle ouer word, sal hulle en toekomstige geslagte nooit wettig tabak kan koop nie, want die waarheid is: Daar is geen veilige ouderdom om te begin rook nie.

“Rook is steeds die hoofoorsaak van voorkombare dood in Nieu-Seeland en veroorsaak een uit elke vier kankergevalle,” het die minister gesê.

Die Nieu-Seelandse regering beoog ook om die plekke waar tabak verkoop word te beperk en slegs produkte met lae nikotienvlakke in die mark toe te laat om die gevaar van verslawing te verminder.

Volgens Verrall bevestig die jongste beoogde maatreëls net weer Nieu-Seeland se rol as ’n wêreldwye voorloper in die beperking van tabak. Die land het in 1990 ’n verbod op sigaretborgskappe van sport ingestel, asook ’n rookverbod in kroeë in 2004.

Verrall het gesê rook eis veral sy tol op Maori-gemeenskappe, asook mense in die Pasifiese streek, waar die rookkoers ongeveer dubbel (13,5%) is, vergeleke met die res van die bevolking.

Die regering beoog nou om dit teen 2025 tot 5% te verminder en beraam dat dit eindelik die gesondheidstelsel NZ$5,5 miljard (sowat R58 miljard) in toekomstige uitgawes sal spaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Swerwer ·

Lekker lag ek nou. Dit sal mense net leer om meer skelm te wees.. Hoe wil hul sy dit toepas/afdwing as ouers dit goedkeur . Regtig? Dink weer want dit is nie haalbaar nie.

Cherokee ·

Toelaatbare ouderdom geleidelik verhoog?
Beter idee sou wees om rokers ‘n tydperk te gee om die verslawing af te skud, waarna nie meer beskikbaar.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Ek wonder of Nieu Seeland wette het wat die rook van dagga reguleer? En wat van alkohol gebruik? En wat van suiker en stysel verbruik?

commontar ·

Presies. Ekt nog nooit gehoor gehoor van iemand wat een aand te veel gerook het en toe slaan hy sy vrou en sy kinders. Of iemand wat so baie gerook het en sy kar gerol het nie?

KB ·

Kyk maat net wie is hul eerste minister, dan maak sulke onnosel idees sin.

VaalDonkie ·

Eienaardig genoeg is hierdee deel van die VN se “agenda 2030”. Gaan lees maar.

modiglianigirl ·

Ek stem. rook is haatlik, maar dié metode is nie ‘n oplossing vir die gruwelike probleem nie. Dit is die begin van nuwes.

JohanR ·

Soe as daai ou oomie van 88 vra vir ‘n pakkie Lexington, sal hy gese word hy is onder die ouderdoms beperking? Sal nooit hier werk nie want Nkosazana Dlamini-Zuma maak te lekker geld elke maand met onwettige sigarette.

madels ·

Dis kommerwekkend om te dink n regering het soveel mag om vir n persoon te bepaal of hy mag of nie mag rook nie, WAT IS VOLGENDE!!??

VaalDonkie ·

Ek het al op 15 begin rook. Het sommer by ‘n shebeen gekoop. En dit was goedkoper want hulle hef nie 14% (nou 15%) BTW nie.

groenboer ·

Soos die Ingelse sê, good luck with that one. Hulle gaan bloot ‘n onwettige mark skep.

Gerhard ·

Oooooooooooooo…….NDZ moenie hierdie artikel lees nie, want dan stuur sy weer klomp containers vol illegal siggies NZ toe

Onnie ·

Ek is al so moeg van die viktimisering van rokers. Dis regtig baie erger om te drink, maar drank sal nooit uit gefaseer word nie, want daar is baie meer nie-rokers, as nie-drinkers. Regerings moet hul lande regeer en hul volwasse landsburgers toelaat om hul eie besluite te neem. Klomp kommuniste as jy my vra.

Johan ·

Siek wêreld waar mense hul vryheid opgee vir die illusie van veiligheid…ons sal dit harder moet beveg. En die medici hoort stil in hul spreek kamers.

Thomas ·

Die uiteinde van demokrasie is Totalitere regering. Die Staat word die opper beskermer van die burger- selfs teen homself. Tiranie volg. En dis alles grondwetlik.

Willem ·

Ek was nog nie eers op skool nie toe gebruik ek al snuif. En ek rook al hoeveel jare. Dis MY keuse of ek wil rook of nie. Ek het ook nog nooit gehoor van motorongelukke wat veroorsaak is omdat die bestuurder gerook het nie. Het ook nog nooit gehoor dat mense mekaar aanrand omdat hul onder die invloed van nikotien was nie

juffroubee ·

Ongelukkig gaan hierdie erger dinge tot gevolg hê. Tieners eksperimenteer, ons almal weet dit. Ons het hierdie land besoek en ongelukkig sê mense wat daar woon dat tieners nou eksperimenteer met veel erger dinge (kokaïne, LSD en dan natuurlik dagga) omdat sigarette reeds onbekostigbaar is. Ek verstaan dat geen dwelm goed is vir ‘n mens nie… Maar sommige dwelms is dalk “beter” as ander. Harde dwelms is vir my veel erger as ‘n skelm sigaret.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.