‘Numero uno’ – Spanje is Wêreldbekerwenners!

Spanje se vrouesokkerspan het vir Engeland met 1-0 in die eindstryd geklop. (Foto: William West/AFP)

Spanje se vrouesokkerspan is die Wêreldbekerkampioen nadat hulle Engeland met 1-0 voor meer as 70 000 toeskouers in die eindstryd in Sydney geklop het.

Die span se kaptein, Olga Carmona, het die enigste doel van die wedstryd in die eerste helfte aangeteken.

Die oorwinning moet ook ’n persoonlike triomf vir afrigter Jorge Vilda wees – skaars ’n jaar gelede het 15 spelers aangedui dat hulle nie meer onder hom wil speel nie. Die spelers het onder meer gekla dat hy ’n beheervraat is en hulle het sy kop as hoofafrigter geëis.

Maar nou is Spanje die wêreldkampioen en die strydbyl sal ongetwyfeld vir eers begrawe wees; boonop het net drie van die 15 klaers die Wêreldbekergroep gehaal.

Vilda het ná sy span se halfeindstrydoorwinning teen Swede gesê dat die voorval die span in ’n meer hegte eenheid saamgesnoer het.

Vóór vanjaar se toernooi kon Spanje nog nooit daarin slaag om ’n uitklopwedstryd in ’n Wêreldbekertoernooi te wen nie, terwyl hulle nou ook met 4-0 in die groepfase die onderspit teen Japan gedelf het.

Goeie vertonings teen Switserland (5-1), Zambië (5-0), Nederland (2-1), Swede (2-1) en natuurlik Engeland het egter die span se weg na Wêreldbeker-glorie gebaan.

Dit is die eerste keer in die toernooi se geskiedenis dat Spanje die silwerware omhoog hou; die VSA, Duitsland, Noorweë en Japan tel onder die vorige wenners.

Op haar beurt het Engeland se Millie Bright erken dat haar span platgeslaan was toe die eindfluitjie geblaas het.

“Ons het ons heel beste gegee, maar ongelukkig was dit nie vandag goed genoeg nie. Die spelers is ongelooflik. Baie ondersteuners het geglo dat ons nie ’n kans staan nie, maar ons het nooit opgehou om in ons vermoë op die veld te glo nie,” het die Engeland-kaptein gesê.

Spanje kon in die eerste helfte kwalik ’n voet verkeerd sit, maar Engeland het goed in die tweede helfte terugbaklei.

“Ons was nie op ons beste in die eerste 45 minute van die wedstryd nie, maar in die tweede helfte het ons met toewyding en karakter gespeel en beslis ’n paar geleenthede geskep om doele aan te teken. Maar dit is hoe dit in ’n sokkerwedstryd gaan – soms werk dinge uit en ander kere nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.