Nuuskommentaar: Minderheidsgroepe se oog op die bal

Grafika; mnn.com

Grafika; mnn.com

Met die xenofobiese geweld die afgelope ruk is ander brandende kwessies op die media se nuusagenda effe na die agtergrond gestoot. Selfs die beeldestorm en die onheilspellende boodskap wat dit uitstuur, het ietwat in die skadu teruggesak.

Tog het nie veel verander nie. Daar was weer minstens een plaasmoord, munisipaliteite spartel steeds weens kaderontplooiing met die regering as alewige oplossing van samesmelting om die probleem “op te los” (en dikwels net dubbel so groot te maak), die grondkwessie hang steeds in die weegskaal, pres. Jacob Zuma is steeds president van die land en vele ander probleme.

Pas het Ben Cousins, voorsitter van die Instituut vir Landbouwetenskappe, aan afgevaardigdes by ’n internasionale konferensie by die UWK gesê Suid-Afrika se getal kommersiële boere het sedert 1994 met die helfte tot 35 000 afgeneem. Vyf tot sewe persent van die land se boere lewer sowat 80 persent van die land se kosproduksie. Een implikasie is dat vir elke boer wat nou vermoor word, die persentasie tot die totaal nou dubbel so groot is soos in 1994.

Dit sou interessant wees om te sien hoeveel van hierdie kosproduksie kom van binne die land se droëland-reënvalstreek. Zuma het onlangs nog op TV gesê die meerderheid van die grond wat tradisioneel in swart boere se besit val, is in die land se droër en onvrugbaarder dele – ’n opperste kluitjie as enige reënvalkaart van Suid-Afrika as grondslag gebruik word.

Oor die media word graag gesê dat daar nooit toegelaat word dat feite in die pad van ’n goeie storie staan nie. Trouens, voor die aanbreek van die wêreld se groot ekonomiese krisis het ’n tipe moraliteitsbeweging in Europa ontstaan waar probeer is om die media en politici tot hoë morele waardes aan te vuur. Die ekonomiese krisis het egter ’n nuwe wending gebring. Terwyl politici steeds onder morele druk geplaas is, het die publiek in die media ’n bondgenoot gevind om die ander groot nuwe gogga te ontmasker – inhalige bankbase en soortgelyk.

En hiervan het genoeg ontwikkel. In Ysland, waar van die grootste vergrype plaasgevind het, het die bankbase argaïese muilbandwette probeer inspan om te probeer keer dat hul geraamtes uit die kas tuimel. Die regering het ingegryp, en Ysland bly aan die voorpunt van persvrye lande.

In die VSA, waar die Wall Street-protes beslag gekry het, het die media dit gou aan die groot klok gehang dat van die maatskappye wat staatshulp ontvang het om die wolf van die deur te hou, van daardie geld gebruik het om weer verbluffende bonusse aan hul ringkoppe te betaal.

In Suid-Afrika, so lyk dit, is die versoeking steeds groot om die media elke nou en dan as deel van die regering se blaampolitiek by te dam. Pas het die spandabelrige koning Goodwill weer die media beskuldig dat hy verkeerd aangehaal sou wees – ’n aanhaling wat die jongste vlaag xenofobiese geweld ’n stewige hupstoot gegee het.

Op die oog af lyk dit inderdaad of die land se eie minderheidsgroepe ’n blaaskans gekry het met die aanslae teen hulle. In Sondagaand se RSG-program Kommentaar het prof. Amanda Gouws selfs in breë trekke verslag gelewer oor ’n gesprek tussen die hoofde van voormalige hoofsaaklik Afrikaanse universiteite met die minister van Hoër Onderwys waartydens dr. Blade Nzimande grootliks sy tevredenheid met hierdie universiteite uitgespreek het.

Hierdie universiteite gaan grootliks verantwoordelik om met geld, die gehalte is hoog en die uitsette ook goed.

Kort-kort is daar sprake dat die regering en die georganiseerde landbou mekaar oor die kwessie van grondhervorming vind.

Dit sou wonderlik wees as hierdie scenario enduit deurgetrek kan word.

Ongelukkig is daar ook ’n fynskrif, en dikwels skuil die duiwel juis in hierdie fynskrif wat dikwels die land se minderheidsgroepe raak.

Die beeldestorm het ten spyte van die regering se oproepe nie tot ’n einde gekom nie. Vandag probeer Solidariteit ’n interdik teen die EFF oor die kwessie verkry.

Die hofsaak waarin veral bruin mense in die Kaap deur die regering se beleid van nasionale kwotas erg benadeel word, word in die vorm van ’n saak van Solidariteit teen die DKD na hoër gesag geneem. Ten spyte van ’n paar bloedneuse lyk dit nie of die regering veel kennis neem van hierdie uitsprake nie.

So tussenin – en iets wat slegs ’n amperse wegsteekberiggie in Rapport kon lewer (afgesien van behoorlike dekking deur Maroela Media) het die Suid-Afrikaanse Ruimte-agentskap (Sansa) sy voorgestelde nuwe taalbeleid ingevolge die Talewet gepubliseer. Sansa sal hiervolgens Engels, Zoeloe en Pedi as amptelike tale vir onder meer mediaverklarings en sy webwerf gebruik.

Dit is egter nie net die media wat skaars kennis geneem het nie; afgesien van ’n paar warm onder die kraag reaksies, was daar bitter min reaksie van die publiek. Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns het ’n omvattende voorlegging in groot haas om die spertyd vir kommentaar te haal opgestel.

Hier is twee maniere van kyk na hierdie kwessie. Die eerste is dat staatsinstansies (daar is veel meer as net Sansa) ’n ondergeskikte wet inspan om amptelike tale uit die Grondwet te steel. As die grondwetlike beginsels bygewerk word, is die doel dat al die amptelike tale bevorder moet word. Die Grondwet self bepaal net dat “inheemse amptelike tale”, waarvan Afrikaans immers een is, uitgebou en uitgebrei moet word.

Die ander manier van kyk is dat die staat in ieder geval vir praktiese doeleindes Engels tot die enigste amptelike taal verhef het, en dat die Talewet die staat- en staatsinstellings minstens dwing om minstens nog twee amptelike tale daarby behoorlike erkenning te gee. Uit die sowat 20 wat reeds hul talebeleid voorgestel het, het vier Afrikaans ingesluit, aldus dr. Danny Titus.

Wat die Sansa-kwessie sensitief maak, is dat die opdrag vir die drie gekose tale skynbaar van die moederdepartement, die Departement van Wetenskap en Tegnologie, gekom het. Die doel van die Talewet is onder meer om die oog op funksionaliteit te hou, en dis hier klaarblyklik nie gedoen nie. Die minister, Naledi Pandor, staan immers bekend as een van die beheerkliek van Zuma uit KwaZulu-Natal.

Dit kan aanvaar word dat Afrikaanse kultuurinstellings op ’n verantwoordelike manier die oog op die bal hou om te kyk hoe die toepassing van die Talewet sy beslag gaan kry, en uiteindelik dat die wet se grondwetlikheid selfs in die howe getoets kan word as dit sou blyk dat die staat die wet as slenter aanwend om ’n enkele amptelike taal doeltreffend te verskans.

Maar sal die huidige louheid onder die publiek en die media ’n paar grade opgedraai kan word wanneer dit nodig is, sodat die instansies wat groot geld op die spel gaan plaas (en in baie ander projekte reeds op die spel plaas) om Afrikaans en ander tale te beredder?

Daar is ’n duidelike behoefte om baie wakker te slaap oor kwessies van minderheidsregte en -belange. Daar is egter ook ’n manier van hoe om dit te doen, en die woord “fatsoenlik” is konsekwent die een wat die beste pas.

Die oë van die wêreld is op ons. Vanoggend berig die Vlaamse dagblad, De Standaard, reeds dat koning Goodwill by gister se byeenkoms gesê het: As hy werklik sy mense opgeroep het om van die migrante ontslae te raak, sou die hele land gebrand het.

Moenie daardie persoon wees wat die verkeerde ding doen of sê wat die beste koerantopskrif sal maak nie. Daar is net te veel op die spel.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Wêreldnuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Bruno Stef ·

Jare terug toe daar groot gevegte tussen die ANC en Inkhata was veral in Natal het Butelezi die Zulus op n kol gewaarsku om nie met die Afrikaners skoor te soek nie .Dit het gelei daartoe dat Inkhata n nie aanval ooreenkoms op Vereeniging met sommige Afrikaanse organisasies aangegaan het.Wees maar versigtig ou Groot Pou moenie jouself oorskat nie onthou net die 60 miljoen houe wat die belasting betaler alreeds op jou spandeer.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.