Oekraïense ministers sterf toe helikopter val

Reddingswerkers by die kleuterskool waar die helikopter neergestort het. (Foto: Sergei Supinsky / AFP)

Oekraïne se minister van binnelandse sake is Woensdag dood toe die helikopter waarmee hy na die voorste linies in die ooste van Oekraïne op pad was, by ʼn kleuterskool buite Kiëf neergestort het.

Min. Denys Monastyrsky (42) was saam met agt ander mense in die helikopter van die Oekraïense staatsnooddiens (SES) toe dit langs die kleuterskool en ʼn residensiële gebou in Brovary, sowat 20 km noordoos van die hoofstad, neergestort het.

Minstens 17 ander mense, onder wie Monastyrsky se eerste adjunkminister, die staatsekretaris en drie kinders, het tydens die ongeluk omgekom. Sowat 29 ander insittendes, van wie 15 kinders, is tydens die ongeluk beseer en na hospitale gehaas.

Die oorsaak van die ongeluk is in dié stadium nog onbekend.

Min. Denys Monastyrsky (Foto: Genya SAVILOV / AFP)

“Die doel van die helikoptervlug was om werk te verrig in een van die brandpunte van ons land waar vyandelikhede voortduur,” het die adjunkhoof van die Oekraïense presidensiële kantoor, Kyrylo Tymoshenko, gesê.

Pres. Wolodimir Zelenski het met skok op die nuus gereageer.

“ʼn Verskriklike tragedie het vandag in Brovary, Kiëf-streek, plaasgevind. ʼn SES-helikopter het neergestort en ʼn brand het by die ongeluksterrein uitgebreek. Die pyn is onbeskryflik,” lui ʼn inskrywing op die president se sosialemediablad.

“Dit is ʼn groot verlies vir die regeringspan en die hele staat,” het Oekraïne se premier, Denys Shmygal, op sy beurt gesê. “My innige meegevoel met die families van al die slagoffers. Ek het [amptenare] opdrag gegee om onmiddellik ʼn spesiale groep op die been te bring om ʼn deeglike ondersoek na die omstandighede van die tragedie te doen.”

Monastyrsky, ʼn opgeleide prokureur en pa van twee, dien vanaf Julie 2021 as Oekraïne se minister van binnelandse sake en is ʼn sleutellid van Zelenski se party.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Phil ·

Hoekom moet hulle die Russiese media se voorbeeld navolg? Elk geval, kom ek doen dit sommer: As dit nie was vir Rusland se onwettige inval en kriminele dade in Oekraïne nie, was die helikopter vlug nie nodig gewees nie en sou die ongeluk nie gebeur het nie. Tevrede?

JohanR ·

Is jy ‘n ANC minister Knorknaap? Moet jy dan nie op die ANC webblad wees nie?

Knorknaap ·

Korrupsie verafsku my, dus vind jy my glad nie op die ANC se blad nie. Soos jy behoort te weet is Oekraine nog meer korrup as die ANC. Tweedens het ek ook nie veel simpatie met Neo-nazis nie.

JohanR ·

Kan nie dink hoe ek al van die begin af gejuig het vir ‘n Oekraïne oorwinning. Daai Oekraïners is darem ‘n taai mense, en as hulle soe bietjie beter en meer wapens kan kry sal Putin miskien sy dinges sien!

Nettie ·

Die arme, arme kindertjies en onderwysers. En ouers. En families wat agterbly. Mag God hulle deur hierdie tyd help. Hoe verskriklik!

Christine ·

Mens weet nie meer wat om te glo met hierdie oorlog nie. Ek lees dat Zelenski ‘n misdadiger is/was en Ukraine hardloop soos ‘n mafia-staat. Wat gaan werklik hier aan? Oorlog en die verliese van lewens bly altyd tragies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.