Vir die eerste keer in byna ‘n jaar lyk dit of vredespogings in die Oekraïne op dreef kan begin kom.
Vredesamesprekings met die separatiste sal volgens beplanning die naweek op dreef kom, met as eerste oogmerk om ‘n langdurige en volhoubare skietstilstand te bewerkstellig.
Dit volg na suksesvolle gesprekke Woensdag tussen die Oekraïne, Rusland, Duitsland en Frankryk, op inisiatief van die Duitsers.
Na afloop van die samesprekings is aangekondig dat daar ‘n duidelike wil is om die wapens neer te lê. Die Russiese minister van buitelandse sake, Sergei Lavrov, het gesê hy verwag dat die skietstilstand gou ‘n werklikheid sal word.
Die vier lande sal ook dringend na ‘n eensgesindheid soek oor die voorwaardes waaraan die skietstilstand moet voldoen.
Rusland sal ook instem dat waarnemers van die Organisasie vir Veiligheid en Samewerking in Europa by sekere grensposte geplaas kan word. Rusland sal ook werk maak daarvan om mense vrygelaat te kry wat die separatiste gevange gehou word.
President Petro Porosjenko van die Oekraïne het onlangs ‘n eensydige skietstilstand met die separatiste ingestel, en dit verlede week ná 10 dae opgeskort. Sedertdien het vyf soldate van die Oekraïne en honderde separatiste in sowat 100 skermutselings omgekom. Die Oekraïne en die separatiste het mekaar tydens die vorige skietstilstand daarvan beskuldig dat hulle die kans benut het om te herbewapen en hul posisies te konsolideer. Die onderhandelaars wil seker maak dat die nuwe skietstilstand nie weer vir herbewapening en verskansing benut word nie.
Bronne: USA Today, Trouw