Oekraïne se graanuitvoere opnuut in weegskaal

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Couleur/Pixabay)

Daar kan dalk opnuut ʼn stokkie voor Oekraïne se graanuitvoere gesteek word as Rusland nie teen volgende week ʼn belangrike ooreenkoms hieroor hernu nie.

Die Russiese president Wladimir Poetin het gewaarsku dat “nie een” van Moskou se voorwaardes nagekom is wat sou verseker dat die ooreenkoms slaag nie.

“Die bal is in pres. Poetin se hande,” het Ursula von der Leyen, hoof van die Europese Kommissie, in antwoord op ʼn vraag oor die sogenaamde Swartsee-graanooreenkoms gesê.

António Guterres, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies (VN), sê die VN se vennootskap met die EU oor hierdie en ander kwessies is noodsaaklik om “vertroue met die ontwikkelende wêreld te herbou … en ons het nie ʼn oomblik om te verloor nie”.

“Dit is wanneer multilateralisme belangriker is as ooit: om vrede te bring, om die planeet te beskerm, om hongersnood te beëindig,” het hy gesê.

Die VN se Swartsee-graaninisiatief, ʼn ooreenkoms wat in Julie verlede jaar aangegaan is, verstryk Maandag – tensy Poetin instem om dit te verleng. Hy het egter nog nie aangedui dat hy van plan is om dit te doen nie.

Die ooreenkoms gee aan Rusland nog mag in sy oorlog teen Oekraïne.

Moskou het herhaaldelik gedreig om kop uit te trek weens struikelblokke in die pad van sy eie uitvoere.

Poetin het in ʼn onlangse TV-onderhoud gesê hy het nog ʼn paar dae om oor die ooreenkoms te besin.

Die ooreenkoms het Oekraïne toegelaat om meer as 32 miljoen ton graan verby Rusland se oorlogskepe in die Swartsee na die res van die wêreld uit te voer. Die meeste van dié graan is vir ontwikkelende lande in Afrika en die Midde-Ooste bestem.

Sou die ooreenkoms nie hernu word nie en uitvoere opgeskort word, kan die prys van kos selfs verder styg.

Die Europese Kommissie het reeds aanvullende roetes oor land ingestel sodat Oekraïense graan die uitvoerbestemmings kan bereik. Die volume wat oor land vervoer word, is egter ʼn bitter klein gedeelte van die graan wat vragskepe kan vervoer.

Von der Leyen sê die graankwessie is ʼn belangrike onderwerp vir die kommissie en die VN se spanne wat tans vir hul jaarvergadering by La Hulpe, ʼn dorp suid van Brussel, byeen is.

Sy het ook Guterres se “onvermoeide pogings om die Swartsee-graaninisiatief te verleng” verwelkom en sê “Rusland het ʼn verantwoordelikheid om dit te verleng of wêreldwye voedselonsekerheid sal die gevolg wees”.

Ander kwessies wat die Europese Kommissie en die VN by die twee dae lange vergadering sal bespreek, is Rusland se voortgesette oorlog teen Oekraïne, pogings om klimaatsverandering te bekamp, ​​en ontwikkelings in die digitale ekonomie – veral die behoefte aan internasionale “lenings” vir kunsmatige intelligensie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.