Oekraïne verskerp aanval op Rusland

Die Russiese oorlogskip Moskva (Foto: Max DELANY / AFP)

Een van Rusland se vernaamste oorlogskepe is Donderdag inderhaas op sleeptou geneem na ʼn Oekraïense hawe en ontruim nadat ʼn brand glo op dié skip aan die Oekraïense suidkus uitgebreek het. Volgens Rusland is die brand se oorsaak onbekend, maar Oekraïense owerhede beweer hulle het die skip met ʼn missiel van die kus getref. Die Moskva, Rusland se grootste missieldraer, is die afgelope sewe weke gebruik om die suidkus van Oekraïne te bombardeer.

Volgens Russiese owerhede is die skip erg beskadig en sowat 500 bemanningslede moes die vaartuig verlaat. Dit wil egter voorkom of die missiele op die skip onaangeraak is.

Bomaanvalle vanuit Kiëf het Russiese burgers óók Donderdag genoop om twee nabygeleë grensdorpe te ontruim.

Oekraïense vlugtelinge in ‘n gimnasium in Meksiko.
(Foto: Patrick T. FALLON / AFP)

“Oekraïense gewapende magte het vandag op die dorp Klimovo losgebrand en twee woonstelgeboue beskadig. Sommige van die inwoners is ook beseer,” het goewerneur Alexander Bogomaz gesê. Die sewe inwoners is glo almal in die hospitaal opgeneem.

Oekraïense magte het Kiëf ʼn paar weke gelede uit Russiese hande bevry en skynbaar nou ʼn aanval vanuit dié stad geloots. Oekraïne moes egter Woensdag beheer oor die kusdorp Marioepol aan die Russe oorgee nadat ʼn bitter stryd om dié dorp weke lank gewoed het.

Volgens die syfers deur die VN het 4,7 miljoen mense uit Oekraïne gevlug in die 50 dae sedert Rusland dié land binnegeval het. Altesaam 90% hiervan is vroue en kinders, aangesien mans tussen 18 en 60 jaar opgeroep is om oorlog te voer. Die VN skat boonop dat ʼn bykomende 7,1 miljoen mense uit hul huise gevlug het, maar steeds in Oekraïne is. Dit beteken dat meer as ʼn kwart van die totale Oekraïense bevolking tot dusver genoop was om hul huise te verlaat weens die oorlog.

Die meeste van dié vlugtelinge (60%) het die grens na Pole oorgesteek.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

boerie ·

Laat die russe teen Putin draai deur hulle dorpe na aan die grens ook te bestook.

Samuel ·

Dit is ‘n geweldige erge menslike tragedie. My vraag is egter, met al die propaganda, wat is die waarheid? Is dit nie so dat die waarheid eerste sneuwel in ‘n oorlog nie?

Carel ·

Papier is geduldig. Gèèn missiel omseil ‘n Kashtan CIWS nie. Die Moskva het ‘n helse klomp van die goed

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.