Oliestorting: Mauritius soek vergoeding terwyl opruimingswerk voortduur

Foto verskaf deur die Franse Weermag wys die oliestorting van die MV Wakashio (11 Augustus 2020) (Foto: Gwendoline Defente, EMAE via AP)

Mauritius het gesê hy soek vergoeding van die eienaars van ʼn Japannese skip wat olie gestort het toe hy in vlak water naby die eilandnasie gestrand het. Dringende opruimingswerk duur voort om die oorblywende olie uit te pomp.

Die MV Wakashio het sowat 1 000 ton van sy vrag van 4 000 ton olie in die see gestort en die kuslyn van Mauritius, insluitend ʼn beskermde vleilandgebied, besmet. Dit bedreig 35 jaar se werk om die gebied te herstel, het omgewingsaktiviste Woensdag gesê.

Sowat 2 500 ton olie is reeds uit die skip gepomp.

Die skip het op ʼn koraalrif by Point d’Esny, ʼn bewaringsgebied vir seldsame natuurlewe, gestrand. Werkers spook om die skip leeg te pomp voor dit in rowwe seetoestande skeur en verdere besoedeling veroorsaak.

Eerste minister Pravind Jugnauth het gesê Mauritius versoek vergoeding vir die omvattende omgewingskade wat aangerig is van die Wakashio se eienaar, Nagashiki Shipping. Hy het die oliestorting ʼn nasionale ramp verklaar.

Oliestorting van die MV Wakashio (10 Augustus 2020) (Foto: Nik Cole/Mauritian Wildlife Foundation via AP)

Jugnauth se regering is onder druk om te verduidelik hoekom hy nie dadelik stappe gedoen het om die skip leeg te pomp toe dit op 25 Julie gestrand het nie. Die skip het twee weke later, ná dit herhaaldelik deur golwe geslaan is, gekraak en die olie het begin uitlek.

Van die turkoois water om Mauritius is nou ʼn modderige swart kleur.

Duisende inwoners werk al dae lank om die skade te probeer verminder deur rolle materiaal met strooi en suikerrietblare te vul in ʼn poging om die verspreiding van die olie te voorkom. Nagenoeg 400 ton olie wat in die see gestort het, is na raming reeds uit die see verwyder.

Frankryk het ʼn vlootskip, militêre vliegtuie en tegniese raadgewers van nabygeleë Réunion gestuur ná Mauritius verlede week hulp versoek het. Japannese kenners het ook op die eiland aangekom en lewer bystand in die opruimingspogings. Die Verenigde Nasies stuur ook ʼn paar kenners.

“Dit is noodsaaklik dat die skip leeg gepomp word voor dit skeur,” het Jean Hugue Gardenne van die Mauritiaanse natuurlewestigting gesê. “Heelwat olie is die afgelope paar dae uitgepomp, maar ons kan nie nou agteroorsit nie. Daar is reeds soveel skade aangerig.”

Die stigting is besorg dat die oliestorting alle werk ongedaan sal maak wat hy reeds sedert 1985 gedoen het om die gebied te herstel, het Gardenne bygevoeg. “Ons het 200 000 inheemse bome geplant om die kuswoud te herstel,” het hy aan die Associated Press gesê. “Ons het ook bedreigde voëlspesies, insluitend die Mauritiusduif, die Mauritius-brilvoël en die kritiek bedreigde Mauritiuswewer in die Isle aux Aigrettes vrygestel. Nou word dit alles bedreig, aangesien olie in die grond en koraalriwwe insypel.”

Mauritius het ʼn beroep op die internasionale gemeenskap gedoen vir noodbystand in die ongekende ekologiese katastrofe. Nie ʼn enkele Afrikaland het aan die versoek om hulp van een van sy eie AU-lede gehoor gegee nie. Afrikalande het dit oorgelaat aan een van die voormalige koloniale magte, Frankryk, om bystand te lewer. Mauritius was ʼn kolonie van Frankryk tot die eiland in 1810 aan Brittanje oorgegee is. Daar was ook nog nie enige berigte dat Brittanje hulp aangebied het nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Mallie ·

Nou soek hulle vergoeding, maar wanneer gaan hulle, hulle kliente betaal. Ons wag 120 dae tot n jaar vir ons betalings. Dankie Mauritius.

Eerlik ·

Dis regtig baie hartseer. Ek sou ook die maatskappy dagvaar vir al die skade, geld sal net ongeluk nie al die verwoesting omkeer of die dooie diere terug bring nie.

tweeling ·

Julle soek vergoeding maar julle wag 2 weke voordat julle iets doen om die ramp te keer terwyl julle plaaslike mense alles in die stryd werp om te help. Gelukkig kan jy nie die wêreld ignoreer as hulle nie geld wil gee nie want jy is grootliks afhanklik van toerisme. Dagvaar die eienaars van die skip.

Pieter ·

Hoekom het die skip so naby die koraalrif gevaar en met die vrag olie? Lyk soos opset. Merkwaardig dat die Afrika Unie so stil is, asook dat niemand die knie wil buig nie, want daar is nou baie black matter in die water wat lewens bedreig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.