Omikron kelder Grammys, Sundance-fees

Taylor Swift in Maart 2021 met haar derde Grammy vir album van die jaar. (Foto: Kevin Mazur/The Recording Academy /AFP)

Die normale verloop van die Grammy-musiektoekennings en die Sundance-rolprentfees, twee van die VSA se grootste jaarlikse geleenthede, is weens kommer oor die verspreiding van die Omikron-variant van die koronavirus gekelder.

Die Recording Academy het Woensdag aangekondig dat die Grammys, wat op 31 Januarie by die Crypto.com-arena in Los Angeles, VSA, toegeken sou word, onbepaald uitgestel word.

Organiseerders van die Sundance-fees, wat gewoonlik van 20 tot 30 Januarie in Park City, Utah, plaasvind, sal nou virtueel voortgaan sonder enige geleenthede wat met toeskouers aangebied word.

Die hoogs aansteeklike Omikron-variant was teen 1 Januarie verantwoordelik vir sowat 95% van die jongste Covid-19-gevalle in die VSA. Volgens die Amerikaanse sentrum vir siektebeheer se syfers is daar sowat 500 000 nuwe gevalle per dag in die VSA, met nuwe hospitalisasies wat ook toeneem.

Amptelike data in die Verenigde Koninkryk toon dat een uit elke 15 mense in Brittanje in die laaste week van verlede jaar met die virus besmet is.

Boris Johnson, die Britse eerste minister, het egter gesê die reisbeperkings wat verlede maand opgeskerp is om die virus te bekamp is ondoeltreffend en sy regering het die noodsaak vir besoekers om vooraf toetse te doen en in kwarantyn te bly geskrap.

Intussen het die Italiaanse regering Woensdag gesê inentings sal vanaf 15 Februarie verplig word vir mense ouer as 50 – meer as helfte van die land se bevolking – in sy stryd teen toenemende Covid-19-infeksies.

Dié jongste beleid sal mense wat ouer as 50 en werkloos is verplig om ingeënt te word, en diegene wat wel werksaam is verplig om ʼn inentingspaspoort te bekom.

Frankryk het Woensdag ʼn rekordgetal nuwe Covid-19-gevalle in ʼn 24-uur tydperk gehad, met die jongste syfers wat daarop dui dat sowat 332 000 nuwe gevalle aangeteken is.

Dié land se regering oorweeg dit tans om sy huidige gesondheidspaspoorte, wat bewyse van inenting, ʼn negatiewe toets of onlangse herstel aandui, te vervang met ʼn inentingspaspoort waarvoor slegs mense wat ten volle ingeënt is, kwalifiseer.

Pres. Emmanuel Macron het gewaarsku die regering sal druk plaas op diegene wat aanhou weier om ingeënt te word teen Covid-19.

“Ek wil mense wat nog nie ingeënt is nie regtig ontstel,” het Macron gesê. Nagenoeg vyf miljoen mense in Frankryk is nog nie ingeënt nie.

Die Omikron-uitbreking in Europa en die VSA het ook Hongkong genoop om vlugte van agt lande op te skort in ʼn poging om die nuwe virus te bekamp.

Hongkong het, nes China, van die wêreld se strengste beperkings toegepas. Dit het ingesluit weke lange kwarantyntydperke, inperkings en massatoetsing.

Vlugte van Australië, Kanada, Frankryk, Indië, Pakistan, die Filippyne, Brittanje en die VSA na Hongkong sal vir die volgende twee weke verbied word.

Hoewel die Omikron-variant wêreldwyd versprei en inperkings tot gevolg het, is die koers van sterftes en hospitalisasies wêreldwyd aansienklik laer as tydens vorige vlae.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Saartjievandiebosveld ·

Sterftes en hospitaal opnames is feitlik zero…

marius ·

Maar die land van oorsprong se vlugte is oop . Wat ‘n spul narre .

Blomme ·

Is niemand van dai positiewe gevalle ingeênt nie? Is dit die rede vir verpligte inenting?

Annatjie ·

Wat help die inentings dan as so baie mense nog siek word? Niks want mense wat covid gehad het se weerstand is beter as die wat inge ent is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.