Onrusbarende toename in vervolging van Christen-vroue en -meisies

Simin, ʼn Christen-vrou van Iran wat deel was van ʼn huiskerk. Nadat sy en haar man gearresteer en ondervra is, het sy haar huis, werk by ʼn hospitaal en vryheid verloor weens haar geloof. Sy en haar gesin het uit Iran weggevlug en ervaar nou die onsekerheid van ʼn lewe as vlugtelinge (Foto: Verskaf)

Volgens Geopende Deure se jongste verslag word vroulike bekeerlinge na Christenskap deur ʼn groeiende bedreiging van vervolging in die gesig gestaar. Vervolging is kompleks, weggesteek en gewelddadig vir vroue en meisies – gekenmerk deur seksuele geweld en gedwonge huwelike, sowel as verraderlike, onsigbare geweld agter geslote deure.

Aan die ander kant van dieselfde muntstuk is die vervolging van mans en seuns gefokus, sigbaar en ernstig – gekenmerk deur geteikende fisiese geweld, insluitende dodelike geweld, sowel as ekonomiese en staatsdruk.

Dít is sommige van die bevindings in die bedieningsorganisasie Geopende Deure Internasionaal se verslag oor geslagspesifieke godsdienstige vervolging.

Die verslag, getiteld “Insecurity: The 2024 Gender Report”, is vroeër dié maand op Internasionale Vrouedag uitgereik en het die kollig opnuut op die lot van vroue en meisies, veral op die vasteland van Afrika, geplaas.

Mans word dikwels met vervolging geteiken vir hul krag as leiers en finansiële verskaffers, en vroue vir hul seksuele en familie-eer. In lande waar Christene akute vlakke van vervolging weens hul geloof ervaar – ongeag of dit deur gewelddadige godsdienstige groepe, familielede of ander drywers van godsdienstige vervolging aangevuur word – is ʼn persoon se geslag een van die faktore wat bepaal deur watter soort vervolging hulle in die gesig gestaar word.

Belangrikste drukpunte

In al die lande op die Wêreldwaarnemingslys (WWL) is dit algemeen vir vroue en meisies om vervolging in die private sfeer te ervaar, dikwels agter geslote deure of gepleeg deur mense wat hulle ken in hul bestaande gemeenskappe en verhoudings.

Vanjaar is geloofsgebaseerde gedwonge huwelike as ʼn risiko geïdentifiseer in 84% van die WWL-lande – ʼn kommerwekkende algemene praktyk. Gedwonge huwelike is ʼn vorm van uitbuiting en beheer, en die risiko is verweef met seksuele geweld. Só mag jong Moslem-mans in Kameroen byvoorbeeld, te midde van die gewelddadige onveiligheid in die noorde van die land, vroue by markte met krag oorrompel en wegneem. Hulle word vir weke, selfs maande, aangehou om hulle te verkrag en swanger te maak, wat beteken die vroue moet dan met hulle trou. Hulle versteek die meisies in verafgeleë dorpe, en die meisies het dan nie die finansiële middele om terug te keer na hul eie dorpe nie.

Seksuele geweld en gedwonge huwelike word as maniere van intimidasie en beheer aangewend, en dié strategieë is daarop gemik om te verhoed dat Christen-vroue en -meisies hul geloof in Christus uitleef.

In sommige dele van Mali, die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK), Kirgistan en Mosambiek is die ontvoering van bruide gebaseer op geloof ʼn groot risiko. Christen-vroue en -meisies word ontvoer vir gedwonge huwelike met soldate en ander mans wat nie Christene is nie, dikwels Moslem-mans.

Vroue en meisies wat vanaf ʼn ander geloof, soos Islam, tot bekering gekom het reg oor die Midde-Ooste en Noord-Afrika (MENA-streek), ervaar die risiko dat hulle gedwing kan word om met ʼn nie-Christen-man te trou wat ʼn mate van godsdienstige gesag het of toegewyd is aan sy geloof, in die hoop dat hy haar sal beïnvloed om haar geloof te verwerp. Dit sluit ook jong meisies in wat gedwing word om met veel ouer mans te trou.

Topvyf drukpunte vir vroue:

  1. Gedwonge huwelike
  2. Seksuele geweld
  3. Fisiese geweld
  4. Sielkundige geweld
  5. Ontvoering

Volgens die verslag is die gemiddelde aantal drukpunte per land vir vroue en meisies in 2024 nou 8,4 in vergelyking met 6,6 drukpunte per land vir mans en seuns.

Foto slegs ter illustrasie. (Foto: Freepik)

Christen-mans en -seuns nie kwytgeskeld

Mans en seuns ervaar veral die risiko van geloofsverwante fisiese geweld in 39 van die 50 WWL-lande, plekke waar Christene ernstige vyandigheid weens hul godsdienstige affiliasie ervaar.

In talle van die lande wat bestudeer is, is kerkleiers hoofsaaklik manlik. Dus word hulle blootgestel aan spesifieke en gewelddadige vervolging vir hul rol as leiers en geestelike voorsieners vir die geloofsgemeenskap. In lande soos Colombië word pastore gedwing om van hul huise te vlug weens die risiko van aanvalle en afpersing.

Mans se rol as “beskermer” word strategies ondermyn deur groepe wat manlike hoofde van huishoudings teiken met herhaalde dade van marteling, wat die druk verhoog om hul geloof te verwerp en ʼn impak het op hul vermoë om hul gesinne veilig te hou. Selfs kinders kan teikens van fisiese geweld wees, met berigte van laerskoolseuns wat aangerand word omdat hulle Christene is.

In ʼn militêre konteks en vir dié wat vanaf ʼn ander godsdienstige agtergrond tot bekering gekom het, is die risiko van fisieke mishandeling en marteling selfs nog hoër en die koste nog groter omdat hulle die Christelike geloof gekies het. In die oostelike DRK word Christen-mans en -seuns onderwerp aan werwing deur burgermaggroepe, geteikende ontvoerings en moord.

Sielkundige geweld is ʼn ander leidende vorm van vervolging vir mans en seuns. Hulle word as deel van die sielkundige druk wat op Christen-mans in MENA toegepas word, gedwing om Vrydae gebedsessies by te woon en selfs om op ʼn gedwonge hadj, ʼn pelgrimstog na Mekka, te gaan.

Die impak van herhaalde siklusse van geweld, beide fisiek en emosioneel, kan nie onderskat word nie. Dit veroorsaak langdurige sielkundige skade vir Christen-mans en -seuns. Die rimpeleffek hiervan brei uit na hul gesinne, gemeenskappe en kerke.

Topvyf drukpunte vir mans:

  1. Fisieke geweld
  2. Sielkundige geweld
  3. Tronkstraf deur die regering
  4. Ekonomiese teistering by die werk of hul sakeondernemings
  5. Militêre of burgermag diensplig wat met hul gewete bots

 Ander bevindings van die verslag

Die 2024-verslag onthul ook die volgende:

Onveilige kontekste en geassosieerde geweld deur ekonomiese ineenstorting, natuurrampe, politieke onstabiliteit en konflik vererger bestaande kwesbaarhede, wat sekere vorms van geslagspesifieke godsdienstige geweld vererger. Geweld dien as ʼn vonk wat bestaande kwesbaarhede ontbloot en vererger. Dienooreenkomstig is geloofsverwante seksuele geweld vir vroue en fisieke geweld vir mans, insluitende dodelike geweld, algemener in kontekste waar ernstige geweld voorkom. Gewelddadige vorms van onveiligheid soos godsdienstig geteikende geweld, gewapende konflik en kriminele geweld kan lei tot verarming, gedwonge ontworteling en die normalisering van geweld.

Gemarginaliseerde Christene, veral vroue, kan besonder kwesbaar wees in onveilige kontekste soos plekke waar konflik voorkom, gedwonge ontworteling en kriminele geweld. Diegene wat alreeds kwesbaar is se risiko vererger wanneer geweld eskaleer. Vroue wat aan godsdienstige minderhede behoort, is dikwels só ʼn groep.

Gewelddadige onveiligheid los dekades lank ʼn onuitwisbare stempel op gemeenskappe. Selfs wanneer die geweld formeel ophou, word mans en vroue van gemarginaliseerde gemeenskappe steeds deur omvattende uitdagings in die gesig gestaar. Dit kan trauma, gedwonge ontworteling en volgehoue marginalisering insluit wanneer gemeenskappe herstruktureer, wat alles deur godsdiens en geslag beïnvloed kan word.

Lynette Leibach, uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika, sê geen vervolging gebeur toevallig nie.

“Dit is opsetlik, bestaan uit verskillende lae en teiken die waargenome waarde van mans, vroue en kinders in die samelewing om die godsdienstige minderheid af te breek. Wat veral kommerwekkend is, is dat kwesbare meisies en vroue deur gedwonge huwelike geteiken word as ʼn manier om hulle te verhoed om hul Christelike geloof uit te leef.

“Daarom is dit noodsaaklik om bewustheid te skep oor die realiteit waardeur soveel gemarginaliseerde Christene, veral vroue, in die gesig gestaar word. Hierdie bevindings vereis aksie.”

“Insecurity: The 2024 Gender Report” kan hier afgelaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.