Ontploffing by sjokoladefabriek dood drie

Ten minste drie mense is dood na ‘n ontploffing by ‘n sjokoladefabriek in Pennsilvanië. (Foto: Facebook/ George Robert Vitkos)

Drie mense is dood en vier word nog vermis ná ʼn ontploffing by ʼn sjokoladefabriek in Pennsilvanië, Amerika. Volgens plaaslike mediaberigte is nog agt mense na die hospitaal gehaas ná die ontploffing by die RM Palmer-maatskappy se aanleg in dié Amerikaanse deelstaat.

Die ontploffing het 17:00 plaaslike tyd gebeur.

“Die fabriek is amper heeltemal gelyk met die grond gemaak. Daar is bitter min wat hulle uit die puin kon red,” het Samantha Kaag, burgemeester van West Reading, tydens ʼn televisieonderhoud met WFMZ gesê. Sy het die toneel as “skrikwekkend” beskryf.

Sy sê die ontploffing was so groot, dit het die gebou meer as ʼn meter vorentoe beweeg. Nabygeleë geboue het ook geskud weens die krag van die ontploffing.

Wayne Holben, polisiewoordvoerder van West Reading, het tydens ʼn nuuskonferensie gesê die oorsaak van die ontploffing is nog nie bekend nie, maar een gebou is heeltemal vernietig en nog ʼn gebou beskadig.

Volgens Jessica Bezler, woordvoerder van Reading-hospitaal, is minstens agt pasiënte ná afloop van die ontploffing by dié hospitaal opgeneem. Een is sedertdien na ʼn ander hospitaal oorgeplaas en heelparty pasiënte sal binnekort ontslaan word.

Volgens RM Palmer se webwerf is 850 mense deur die maatskappy in diens geneem. Die maatskappy is in 1948 gestig en is veral bekend vir die vervaardiging van seisoenale sjokolade, soos sjokoladepaashase.

Bronne: The New York Times, CBS News

Kyk ‘n video van die ontploffing hier:

  • Die berig is gewysig nadat dit aanvanklik gepubliseer is. – Red 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.