Oorlog versnel veranderde magsorde

’n Oekraïense nasionale vlag word op 1 Oktober 2022 voor ’n verwoeste huis naby Izyum, Oos-Oekraïne, te midde van die Russiese inval in die Oekraïne vertoon. (Foto: uan BARRETO / AFP)

Rusland se inval in Oekraïne ʼn jaar gelede het op vele terreine verreikende skokgolwe veroorsaak, insluitend die verdieping en versnelling van breuklyne in die globale magsorde.

Volgens kenners het dié gevolge ʼn jaar later nog nie volledig uitgekristaliseer nie, maar sien ons reeds kenmerke van die globale herskikking wat tog ʼn blik op die toekoms bied.

“Wat Rusland gedoen het, is om die prosesse te versnel eerder as te veroorsaak,” sê Roland Henwood, politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Pretoria.

“Niemand het skielik begin veranderinge maak die afgelope jaar nie. Hierdie tendense kom in sommige gevalle reeds oor die afgelope twee dekades.”

Die vraag is dan hoe presies die nuwe, dog bekende, magsorde lyk?

Mag in ʼn bipolêre orde

“Ons gaan ʼn era binne van ʼn bipolêre internasionale magsorde met die VSA en China as magsentra. Hierbinne is daar weer subpolêre eenhede soos Rusland, Turkye, Navo, Japan en Indië,” verduidelik prof. Pieter Duvenage, dekaan van fakulteit geesteswetenskappe by Akademia.

Rusland se tradisionele outokratiese neigings wat onder Poetin se leierskap herleef het, maak van hom ʼn subpolêre teenstander van die Weste.

“Dit ten spyte van die feit dat die Russiese volk self eintlik Westerse aspirasies en neigings het – iets wat duidelik blyk uit byvoorbeeld hul literêre prestasies,” meen Duvenage.

Afhangend van hoe die oorlog op die ou end uitspeel, kan dit nog enigeen van dié twee magspole versterk:

“Hierdie stryd kan China bevoordeel. ʼn Swak Rusland sal China versterk en op hierdie stadium lyk dit nie asof Rusland juis sterk uit die stryd gaan tree nie.

“Die teenargument is natuurlik dat Navo (Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie) ook hierdeur verenig is. Europese lande wat vir lank byna geen geld aan verdediging spandeer het nie, het dit nou skielik weer begin prioritiseer. Dit kan vir China weer terugdruk,” sê Duvenage.

Henwood is weer positief oor die besluitnemingsveerkragtigheid wat die Weste, Europa spesifiek, in reaksie op die oorlog getoon het:

“Europa se passivisme tot dusver was ook maar ʼn reaksie op dit wat tot dusver bestaan het. Niemand was regtig uitgevang tot op die punt waarop hulle nie baie vinnig ʼn teenreaksie kon loods nie. Stelsels wat doeltreffend funksioneer en doeltreffend bestuur word, is baie aanpasbaar en kan vinnig reageer wanneer dit nodig is.”

Volgens Henwood is die hele waardestelsel onderliggend aan die internasionale stelsel in gedrang:

“Dit word gewys deur die konflik self, maar ook hierdie diepe verdeling wat wêreldwyd plaasgevind het as gevolg van die konflik.”

Strukturele swakhede uitgewys

Volgens Henwood was daar nog altyd ʼn idealistiese siening dat dié verdelingslyne mettertyd gaan verval en deur die regte strukture, soos die Bretton Woods-stelsel en die Verenigde Nasies, verhoed kan word:

“Rusland se inval was ʼn direkte bewys dat daardie faktore dalk te idealisties beskou is en dat magspolitiek steeds deurslaggewend is. Dit het ook die swakhede uitgewys in prosesse en strukture wat juis bedoel was om hierdie tipe insidente te verhoed.”

So is ons terug in ʼn era waar mag, spesifiek militêre mag, volgens Henwood die deurslaggewende faktor is. Iets wat in die vooropuitgestelde liberale wêreldorde in die post-Tweede Wêreldoorlog-era met instellings en samewerkingsverhoudinge teengewerk is.

Die VN se Veiligheidsraad is seker die instelling wat die klaaglikste misluk het om sy doelstelling van handhawing van internasionale vrede en sekuriteit te vervul.

“Min mense het ʼn oorlog soos hierdie in die een-en-twintigste-eeuse Europa verwag. Hierdie instellings en internasionale verdrae wat daaruit gevloei het, wou juis ʼn oorlog soos hierdie verhoed,” verduidelik Duvenage.

Dit beteken volgens Henwood en Duvenage egter nie dat die instellings hul vervaldatum bereik het nie.

“Dié instellings het ʼn knou, maar nie ʼn uitklophou nie, gekry,” sê Duvenage.

Henwood benadruk ook die blywende belangrikheid van dié tipe instellings ten spyte van die mislukking. Die instellings gaan volgens Henwood waarskynlik nie ʼn magshegemonie voortsit nie, met ander groeiende magsblokke wat eie instellings daarstel:

“Die dominante posisie wat enkele instellings hoofsaaklik in die Weste gehad het, is besig om te taan. Ander strukture ontwikkel nou, wat soortgelyke funksies kan aanbied. Die wêreld is besig om te verander.”

Te vroeg vir langtermynvoorspellings

Duvenage en Henwood wil egter nie met te veel sekerheid langtermynvoorspellings maak oor gevolge van die oorlog nie – te veel gaan afhang van die wyse waarop die oorlog uiteindelik uitspeel.

“Hierdie gevare het nog altyd in die geskiedenis na vore gekom. Die wêreld is nie noodwendig vandag gevaarliker weens die uitbreek van die oorlog nie.

“Aan die ander kant gaan dit ook afhang van die wyse waarop die oorlog ontwikkel. Indien Poetin sy sin kry en Oekraïne vernietig, gaan dit die wêreld wel gevaarliker maak. Dan is ons terug by magspolitiek en die politiek van oorlogvoering om jou doelwitte te bereik,” waarsku Henwood.

Duvenage en Henwood is dit egter eens dat ʼn dawerende Russiese oorwinning ʼn onrealistiese einde vir die oorlog is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.