Orkaan Ian dalk rampspoedigste in Florida-geskiedenis

Huise is verwoes en bote lê in die strate. (Foto: Ricardo Arduengo/AFP)

Orkaan Ian het die afgelope paar dae verwoesting gesaai en minstens tien mense het hul lewens verloor nadat dit oor dele van die Amerikaanse deelstaat Florida beweeg het.

Pres. Joe Biden is bevrees dat die dodetal moontlik nog kan styg, wat dié orkaan dan een van die verwoestendste orkane kan maak wat al ooit in Florida se geskiedenis aangeteken is.

Die orkaan het Fort Myers Woensdag getref en in die proses dele van die stad heeltemal platgevee.

Strate het in riviere verander en huise is onder seewater gedompel nadat stormvloede die gebied getref het. Tientalle bote wat in die marina vasgemeer was, het gesink, terwyl ander in die strate in die middestad ronddobber. Bome is boonop omgeruk nadat die volgehoue wind gepaard gegaan het met rukwinde van tot byna 240 km/h.

Owerhede het aan BBC bevestig dat die oorledenes almal in die Charlotte‑distrik, naby Fort Myers, was. Ander plaaslike media skat dat die dodetal egter veel hoër is en reeds 19 sterftes bereik het.

Joseph Tiseo, ʼn plaaslike kommissaris, het aan die BBC gesê die gebied het “sowat 12 ure lank geweldige winde verduur”.

Honderde mense is weens die verwoesting gestrand gelaat, maar reddingspogings is reeds onderweg om hulle uit hul huise te red. Biden het Florida ook as ʼn rampgebied verklaar, wat federale befondsing losgemaak het om die stormgeteisterde gebied by te staan.

“Ons gaan voort om vinnig op te tree om die familie van Florida te help,” het hy getwiet.

“Ek wil hê die mense van Florida moet weet dat ons hulle in hierdie tyd sal bystaan.”

Groot gebiede aan Florida se suidwestelike kus is in duisternis gelaat nadat kragtoevoer weens die storm uitgesny het. Sedert Donderdag is sowat 2,3 miljoen huishoudings en besighede sonder elektrisiteit.

Twee eilande naby aan Fort Myers, Pine- en Sanibel-eiland, wat gewilde toeristebestemmings is, is in wese afgesny toe die snelweg na die vasteland verspoel het.

Sanibel-eiland is “deur ʼn werklike Bybelse stormvloed getref,” het Ron DeSantis, goewerneur van Florida, gesê. Reddingswerkers is steeds besig om inwoners van die eiland per boot en helikopter na veiligheid te neem.

Lughawens het ook intussen alle kommersiële vlugte opgeskort, terwyl skepe ook hul vaarte vertraag of gekanselleer het.

Volgens die land se nasionale orkaansentrum is die orkaan nou sterk op pad na dele van Noord- en Suid-Carolina. Indien die orkaan nog stede tref, kan dit verdere “lewensgevaarlike oorstromings, stormvloede en sterk winde in die gebiede veroorsaak”.

“Ian kan ʼn bietjie meer versterk voordat dit Vrydag hierdie gebiede bereik,” het die sentrum gesê. Hy het bygevoeg dat dit egter waarskynlik “vinnig tussen Vrydag en Saterdag oor die suidoostelike dele van Amerika sal verswak”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Danie ·

So bly ons nie sulke natuur verskynsels hier nie.Die arme land sou nie kan voorbly met beloftes.

Gawie ·

Nie naastenby so erg soos wat orkaan Trump was nie . . . . . What a joke

Gaitsigubib ·

Wel ou Biden reken “the best way to prepare for the storm is to get vaccinated”! ……. as mens nou graag wou hoor wat ‘n “joke” regtig is, sou ek se.

vuurvliegie ·

Gawie duidelik het jy geen oorseese belegings nie.
In die trump erea het ek geld gemaak maar met Biden bly dit val. Amerika se ekonomie vertoon sleg onder Biden

Pampoen ·

Die hele Florida lê net bo seevlak (die hoogste plekke is maar 20meter bo seevlak en die meeste van die hele staat is maar 1 tot 2 meter bo seevlak). Dit is geen wonder dat hulle so oorstroom nie. Dis ‘n kwessie van tyd voordat dit weer gebeur. Net een tsunami en hulle swem.

Jaco ·

“Biden het Florida ook as ʼn rampgebied verklaar, wat federale befondsing losgemaak het om die stormgeteisterde gebied by te staan.”
Let wel, Biden en die federale regering is ALMAL in die Demokratiese Party, wat bitter min tyd het vir die Republikeine, wat Florida beheer. Politieke kleinlikheid en terugkry aksies verdwyn tydens sulke rampe in Amerika en almal staan saam. Net in dié anti-wit SA waar so ‘n ramp in plekke waar die ANC se opponente in beheer is, by uitstek gebruik sal word om nie-ANC mense aan hulle eie lot oor te laat as sogenaamde “straf” vir apartheid.
Onthou die tyd van inperking: noodfonds NET vir BEE besighede en strande was gesluit tydens Des 2020 – Jan 2021. WEG was wit toeristebesighede aan die kus se beste inkomste van die jaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.