Oud-rugbyspeler met MNS self ‘verbaas’ hy leef nog

Doddie Weir, ‘n voormalige Skotse rugbyspeler by wie motorneuronsiekte gediagnoseer is, het pas ‘n eregraad vir sy bewusmakingswerk ontvang. (Skermgreep: BBC)

Hy is soms self oorbluf dat hy nog leef ses jaar nadat motorneuronsiekte (MNS) by hom gediagnoseer is.

Doddie Weir, ʼn voormalige Skotse rugbyspeler, het die afgelope week ʼn eregraad van die Abertay-universiteit gekry vir sy voortgesette bewusmaking om die lewe van ander met MNS te help verbeter.

Die 51-jarige Weir het 61 keer vir Skotland uitgedraf. MNS is in 2016 by hom gediagnoseer. Dit is dieselfde siekte wat in 2017 die lewe van Joost van der Westhuizen, ʼn Springboklegende, geëis het.

Weir het vandeesweek hulde aan sy familie en vriende gebring en volgens BBC gesê hy “het nie vir ʼn oomblik gedink” dat hy volgende week sy silwer huweliksherdenking sou vier nie.

Hy het vroeër Covid-19 opgedoen en sukkel steeds om sy smaakgevoel terug te kry, maar hy “geniet nog steeds ʼn Guinness”, het Weir geskerts.

“Ek is heeltemal oorbluf oor waarom ek nog hier is.

“Ek dink dit is omdat mense, wanneer hulle hoor hulle het MNS, ook hoor dat hulle net ʼn jaar of twee het om te leef. Jy volg dit omdat dit die patroon is.

“Vir my, ses jaar later, is dit ongelooflik,” het hy aan die Britse uitsaaier gesê.

Weir, ʼn pa van drie, het in 2004 uit rugby getree nadat hy ook vir Melrose RFC en die Newcastle Falcons uitgedraf het. In 2019 is hy vereer met die Orde van die Britse Ryk vir sy bydrae tot rugby, navorsing oor MNS en werk in die Borders-gemeenskap.

Sy stigting genaamd My Name’5 Doddie, ʼn verwysing na die nommervyf-trui, het al sowat £10 miljoen (sowat R203 miljoen) ingesamel.

Hy het die eregraad die afgelope week, vergesel van sy vrou, Kathy, ontvang.

“Ek het my 52ste verjaardag verlede week gevier en my silwer huweliksherdenking is Maandag. Ek het nie vir ʼn oomblik geglo dat ek hier sou wees om dit te vier nie.”

Weir het aan studente gesê ses jaar ná die diagnose stry hy steeds ʼn stryd, veg hy steeds vir ʼn geneesmiddel, maar wen hy tog met elke nuwe dag.

“As dinge nie vir jou uitwerk nie, moenie opgee nie. Gebruik eerder jou ongelooflike energie en brein en probeer weer. Daar is altyd ʼn manier, ʼn ander weg om jou doelwitte te bereik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.