Oud-UFC-kampioen neem glo reg in eie hande

Cain Velasquez (Maart 2010) (Foto: The Doppelganger at English Wikipedia via Wikimedia Commons)

Die voormalige gemengdegevegskuns-kampioen Cain Velasquez is Woensdag formeel aangekla met poging tot moord en verskeie vuurwapen-aanklagte ná ʼn skietery Maandagaand in San Jose, Kalifornië in die VSA, aldus ʼn persverklaring van die Santa Clara County-staatsaanklaer se kantoor.

Velasquez (39) word daarvan beskuldig dat hy Harry Eugene Goularte geteiken het. Goularte word daarvan verdink dat hy een van Velasquez se jong familielede seksueel aangerand het. Velasquez staan tereg op 10 aanklagte en kan meer as 20 jaar tronkstraf opgelê word as hy skuldig bevind word, aldus ʼn hofdokument.

Volgens die staatsaanklaer het Velasquez die voertuig agtervolg waarin Goularte gery het, “tydens ʼn 11 myl (17 km) lange hoëspoed-jaagtog” deur San Jose. Hy het uiteindelik in die voertuig vasgejaag en met ʼn 40-kaliber handwapen verskeie skote op die voertuig gevuur. Goularte was ten tyde van die voorval saam met sy ma en stiefpa in die voertuig. Sy 63-jarige stiefpa, Paul Bender, is een keer in die arm en bors getref, maar sal na verwagting die skietery oorleef.

“Dis ʼn hartseer tragedie dat mnr. Velasques gekies het om gereg in eie hande te neem. Hy het die publiek en almal in die voertuig in gevaar gestel,” het Jeff Rosen, staatsaanklaer, gesê. “Hierdie gewelddadige optrede het meer pyn en lyding vir sy familie veroorsaak.”

Velasquez is later tydens ʼn padblokkade voorgekeer en in hegtenis geneem.

Die saak is tot Maandag uitgestel. Hy word tans sonder borgtog aangehou by ʼn gevangenis in Santa Clara County.

Goularte (43) is nie tydens die skietery beseer nie. Hy word beskuldig van seksuele aanranding van ʼn kind jonger as 14. Hy is op 25 Februarie sonder borgtog uit aanhouding vrygelaat – ondanks besware deur die staatsaanklaer. Voorwaardes vir sy vrylating bepaal dat hy onder huisarres is, dat hy nie nader as 100 meter aan ʼn kind jonger as 14 mag kom nie, en dat hy ʼn elektroniese enkelmonitor moet dra. Hy was na bewering op pad om dié enkelmonitor te kry toe Velasquez hulle agternagesit het.

Velasquez se familielid, wat jonger as 10 jaar oud is, het op 24 Februarie aan die Santa Clara County se sheriff gesê Goularte het hom na ʼn badkamer gevat by ʼn dagsorgsentrum en hom onsedelik betas, aldus ʼn hofdokument wat ESPN bekom het. Goularte het glo aan die seun gesê hy moet nie vir enigiemand sê wat gebeur het nie en dat dit “100 keer” gebeur. Volgens die seun het hy gesien hoe ander kinders ook saam met Goularte in die badkamer ingaan.

Goularte ontken skuld.

Velasquez is ʼn voormalige UFC-swaargewigkampioen en word beskou as een van die beste swaargewig-atlete van alle tye. Hy het in 2019 uit gemengde gevegskuns (MMA) bedank. Hy is tans ʼn afrigter by die American Kickboxing Academy-gimnasium in San Jose.

Verskeie mense het hom Woensdag tydens sy hofverskyning ondersteun. Hulle het met #FREECAIN-T-hemde rondgeloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Niklaas ·

Waarom skiet ? Daai bokser se vuiste sal erg genoeg skade kan aanrig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.