Owerhede soek na Madeleine McCann se liggaam 

Madeleine McCann soos sy gelyk het toe sy as driejarige dogtertjie vermis geraak het. (Foto: http://findmadeleine.com)

Die owerhede in Portugal het met soektogte begin om Madeleine McCann se liggaam te probeer opspoor.

Volgens berigte word daar in putte aan die Algarve-kusstreek gesoek. Daar is glo onder meer gefokus op drie ongebruikte putte in die Vila do Bispo-omgewing, wat sowat 16 km weg is van die Praia da Luz-vakansieoord waarvandaan Madeleine destyds verdwyn het.

Volgens berigte was polisiebeamptes en duikers op die toneel en is spesiale toerusting gebruik om in die putte te soek. Daar is glo verneem dat die verdagte in Madeleine se verdwyning, Christian Brückner (43), ook destyds gereeld in die omgewing gesien is. Hy het in dié tyd in die Algarve-streek gewoon.

Brückner is voorheen skuldig bevind aan seksuele misdrywe teenoor kinders en dien tans tronkstraf in Duitsland uit vir die verkragting van ʼn 72-jarige Amerikaanse vrou in 2005. Duitse aanklaers ondersoek die moontlikheid dat die verdagte met die verdwyning van drie ander kinders verbind kan word.

Madeleine se ouers, Kate en Gerry, is onlangs skriftelik deur Duitse aanklaers ingelig dat daar bewyse is dat Madeleine dood is.

Die McCann-egpaar het die aand van 3 Mei 2007 vir Madeleine en haar jonger broer en suster, ʼn tweeling en destyds twee jaar oud, in hul vakansiewoonstel gelos waar hulle geslaap het.

Die ouerpaar het saam met vriende by ʼn restaurant sowat 55 m van die woonstel af gaan eet, maar kort-kort deur die loop van die aand om die beurt na die woonstel teruggegaan om te kyk of die kinders veilig is. Omstreeks 22:00 het Kate weer gaan kyk en toe vasgestel dat Madeleine uit haar bed verdwyn het. Sy is nooit weer gesien nie.

Bronne: The Mirror, Daily Mail en The Guardian.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

johanf ·

Hartseer, hoop hulle vind haar sodat die ouers berusting kan vind…….

Josh ·

Weet nie wat sukkel hulle so nie. Vat vir fielies saam en MAAK hom die plek uitwys!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.