Pakkie ontplof by Amerikaanse universiteit

Die Northeastern University in Boston, VSA. (Foto: Maddie Meyer / Getty Images via AFP)

Amerikaanse owerhede het Woensdag ’n ondersoek van stapel gestuur nadat ’n bombelaaide pakkie die vorige aand by ’n universiteit in Boston, Massachusetts, ontplof het. Die bom was waarskynlik bedoel as waarskuwing vir dié wat virtuele realiteit bevorder.

Polisiebeamptes is Dinsdagaand na die private navorsingsuniversiteit Northeastern University ontbied nadat daar ’n pakkie op die kampus ontplof het. Die polisie se bomeenheid het kort ná hul aankoms ’n tweede pakkie op die kampus gevind en dit onskadelik gestel.

’n 45-jarige werknemer aan die universiteit is sedertdien na ’n hospitaal vervoer vir mediese behandeling nadat hy weens die ontploffing geringe beserings aan sy hand opgedoen het.

Die pakkie is by Holmes Hall op die kampus afgelewer. (Foto: Maddie Meyer / Getty Images via AFP)

Die Amerikaanse owerhede het teen Woensdag geen verdere inligting óf ’n moontlike motief vir die plant van die pakkies bekend gemaak nie.

Luidens Amerikaanse mediaberigte het die pakkie wel ’n nota bevat waarin Mark Zuckerberg, stigter van Facebook, en akademiese instellings wat bande met virtuelerealiteit-ontwikkelaars het, gekritiseer word.

Die bombelaaide pakkie is boonop by Holmes Hall op die kampus afgelewer, wat die Immersive Media Labs- virtuele realiteitsentrum huisves.

Die Federale Buro vir Ondersoek (FBI) is betrokke by die ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

AmY ·

Geringe beserings aan sy hand?
Ek het op skool my hand met sport beseer (meer as 30 jaar gelede) en sukkel vandag nog steeds daarmee. Selfs al ‘n operasie gehad.
Daar is nie iets soos geringe beserings aan jou hand nie.
Baie sterkte aan die beseerde.

Jaco ·

Vreemd dat sulke goed nog steeds in Amerika gebeur. Die hoogheilige Demokrate is dan in beheer van die Withuis, die Huis van Verteenwoordigers, die Senaat en die Hooggeregshof. Waars al hulle mooi beloftes nou van “human rights”, “healing America” en “a gun free America” dan nou?

Grassie ·

Verskoon maar my onnoselheid maar presies wat is virtuele realiteit? Ek weet wat virtualiteit is en ek weet wat realiteit is, maar dit is teenoorgestelde begrippe. As ek met my kinders in Australië oor facebook kuier is dit ‘n virtuele besoek maar as ek soontoe gaan en daar in hul sitkamer met hulle gesels is dit realiteit. Nou hoe werk dit dat twee teenoorgestelde begrippe in ‘n eenheid van “virtuele realiteit” saamgevoeg kan word?

Chris ·

Die pakkie is moontlik deur diegene geplant, wat die goeie lede in die samelewing as kriminele wil uitbeeld. Jy kan mos vir Zoekerburg self teiken as jy so sterk voel. Die regering kan moontlik self agter hierdie sit – sulke gebeurlikhede sal weer die geleentheid inbring om deur wetgewing mense van die paar regte wat hul oor het te stroop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.