Prins William moet koningshuis op koers hou

Brittanje se koning Charles en koningin Camilla wuif vir die skare terwyl hulle wegry by Clarence House. (Foto: Henry Nicholls/AFP)

Met sy pa, koning Charles III wat behandeling vir kanker ondergaan, en sy vrou, Catherine, wat ná ʼn operasie aansterk, sal Brittanje se prins William Woensdag sy koninklike pligte hervat.

Die koning se skokkankerdiagnose wat Maandag bekend gemaak is, en Catherine se vroeëre buikoperasie, beteken William moet nou ʼn swaar koninklike las opneem.

Die 41-jarige William, Charles se oudste seun en die troonopvolger, het alle openbare skakeling uitgestel om sy vrou, die prinses van Wallis, en hul drie kinders by te staan nadat sy op 16 Januarie in die hospitaal opgeneem is.

Hy sal egter Woensdag weer terug wees by die werk, en sal in die Windsor-kasteel eerbewyse aan verdienstelike Britte toeken voordat hy die London Air Ambulance se jaarlikse fondsinsameling in die Londense middestad gaan bywoon.

Hy sal na verwagting ook sommige van sy pa se pligte oorneem terwyl die koning behandeling ondergaan. Senior koninklikes soos prinses Anne en Charles se vrou, koningin Camilla, sal help om die las te dra.

Buckingham-paleis het nie besonderhede gegee oor die soort kanker wat die 75-jarige monarg het nie, maar na verneem word is dit nie prostaatkanker nie.

Die Britse eerste minister, Rishi Sunak, het vroeër gesê die kanker is “vroeg opgetel”.

Die diagnose kom net 17 maande nadat hy die troon bestyg het, ná die dood van sy 96-jarige ma, koningin Elizabeth II, op 8 September 2022.

Diepe verdeeldheid

Brittanje se koning Charles III (regs), sy seun prins William, die Britse troonopvolger, en Catherine, William se vrou, by ‘n geleentheid verlede jaar. (Foto: John Linton/AFP)

Om by te dra tot die drama, het die koning se vervreemde seun, prins Harry, Dinsdag vanuit die VSA na Brittanje teruggekeer.

Kort daarna is ʼn ontspanne Charles gesien waar hy sy woning, Clarence House, in Londen vir Sandringham, sy landgoed op die platteland in die ooste van Engeland, verlaat.

Die nuus het dadelik bespiegeling veroorsaak dat die gebeure as katalisator kan dien om die diepe verdeeldheid te genees wat die aanvang van Charles se heerskappy ontsier het.

Die koninklike kommentator Richard Fitzwilliams het egter die skeur tussen Harry, die hertog van Sussex, en die res van die familie as “baie diep” bestempel.

Harry het ʼn besonder weerspannige verhouding met sy broer William.

Talle mense het simpatie met William gehad wat nou die dubbele las van sy verantwoordelikhede teenoor sy gesin met sy amptelike pligte moet balanseer.

“Hy’t ʼn taai werk want sy vrou is in hierdie stadium olik en dit plaas druk op arme William, maar ek is seker hy kan dit hanteer,” het pensioenaris Sue Hazell buite Buckingham-paleis gesê.

Kate sal na verwagting tot minstens die einde van Maart buite aksie wees, het Kensington-paleis vroeër gesê. Paleisamptenare het geen besonderhede oor haar operasie bekend gemaak nie, benewens om te sê dit hou nie met kanker verband nie.

Koning Charles is ook geloof omdat hy openhartig oor sy mediese toestand gepraat het. Dit is ʼn verandering van die koningshuis se vroeëre houding; hulle was in die verlede uiters diskreet oor enige persoonlike mediese kwessies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Tee, scones, en toesprakies lees is regtig harde werk vir dié mense, al word hulle bygestaan deur meer as 1000 amptenare. In die 2022/23 fiskale jaar het hulle die sukkelende belasting betalers net £107 miljoen gekos. Maar hulle fans hier sal sê hulle lok miljoene toeriste.

LIEZL ·

Ai siestog, hyt nog nooit hard gewerk nie. Dis glad nie ‘n skande om ‘n slag te begin werk nie

Meinung ·

Ek voel ook die vreeslike simpatie met William is onvanpas. Dié mense het géén idee van miljoene mense se daaglikse oorlewingstryd nie terwyl hulle soortgelyke familiesiekes met skrale hulpbronne moet hanteer.

Karoo ·

Kyk… dis werkskepping, dis darem nie dat hulle heel dag pyp rook, en uit ‘n kalbas bier drink en nig’ n vrou soek om by te las nie. Is daar nog ‘n plek vir’ n Koninglike gesin in die wereld waarin ons leef vandag? Seeker nie, maar mense sal bly veg vir hulle kultuur. Ek wens die Konig beterskap toe.

Nommer 7 ·

@Republikein, hulle kos dalk die belastingbetaler £107 miljoen, maar hulle bring £958 miljoen in. ‘n Uitstekende rendement sou ek se^.

Sandra ·

kyk, as dit nou Ramaposa was, het hulle 10 amptenare aangestel om sy werklas te dra.

Niklaas ·

Dis nou waar Prins Harry nuttig kon wees om met die verdeling van die werklas te help. Maar toe moes hy destyds luister na ander bevele en tasse pak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.