Reënwater ‘nêrens op aarde’ veilig om te drink

mikroplastiek

PFAS, of per- en polifluooralkielstowwe, staan ook bekend as “ewige chemikalieë” omdat dit so stadig afbreek. (Argieffoto: Oregon State University/Flickr.com)

Reënwater oral op aarde is onveilig om te drink weens die vlakke van giftige chemikalieë wat daarin gevind word.

PFAS (per- en polifluooralkielstowwe), ook bekend as “ewige chemikalieë” omdat dit so stadig afbreek, is aanvanklik gebruik in verpakkingsmateriaal, sjampoe en grimering, maar dit het die afgelope paar jaar oor die ganse omgewing versprei – en word ook in die lug en water aangetref.

“Nêrens op aarde is reënwater meer veilig om te drink nie; nie volgens die metings wat ons gedoen het nie,” sê Ian Cousins, ʼn professor verbonde aan die Stockholm-universiteit en die hoofskrywer van ʼn studie wat onlangs in Environmental Science and Technology verskyn het.

Die studie van data wat sedert 2010 versamel is, wys dat “selfs in Antarktika of die Tibettaanse plato, die vlakke in reënwater hoër is as die drinkwaterriglyne wat die Amerikaanse Omgewingsbeskermingsagentskap (EPA) aanbeveel”.

Die gebiede word gewoonlik as ongerep bestempel, maar steeds is die PFAS-vlakke in hierdie twee streke “14 keer hoër” as die riglyne wat vir drinkwater aangedui word.

Die EPA het onlangs sy PFAS-riglyne aansienlik aangepas nadat daar ontdek is dat die chemikalieë kinders se immuunreaksie op inentings kan raak, sê Cousins.

Nadat dit ingeneem is, versamel PFAS in die mens se liggaam. Volgens sommige studies kan dit onder meer lei tot vrugbaarheidsprobleme, ontwikkelingsvertraging in kinders, ʼn verhoogde risiko van vetsug of sekere soorte kanker, asook ʼn verhoging in cholesterolvlakke.

Planeet ‘onomkeerbaar besmet’

Cousins sê PFAS word nou so wyd aangetref dat dit nooit van die aarde sal verdwyn nie.

“Ons het die planeet onherbergsaam vir menslike lewe gemaak deur dit onomkeerbaar te besmet sodat niks nou meer skoon is nie. Dit is nie meer skoon genoeg om veilig te wees nie,” sê hy.

“Ons het ʼn planeetgrens oorgesteek,” sê Cousins met verwysing na ʼn metode om die aarde se vermoë te meet om die uitwerking van menslike bedrywighede te absorbeer.

Tog het PFAS-vlakke in mense die afgelope 20 jaar aansienlik gedaal, sê Cousins. PFAS-vlakke in die omgewing was die afgelope 20 jaar ook naastenby dieselfde.

“Wat verander het, is die riglyne. Dit het sedert die vroeë 2000’s miljoene kere gedaal omdat ons soveel meer te wete gekom het oor hoe giftig hierdie middels is.”

Cousins sê mense sal moet leer om daarmee saam te leef.

“Ek is nie superbekommerd oor die daaglikse blootstelling in berg- of stroomwater of in kos nie. Ons kan nie daarvan wegkom nie, ons sal maar net daarmee moet saamleef.

“Dit is egter nie ʼn goeie situasie om in te wees nie; ons het die omgewing tot so ʼn mate besoedel dat blootstelling in die agtergrond nie regtig meer veilig is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dries ·

Lankal vir vroulief dit gesê, dit is hoekom ek liewer bier drink.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.