Rembrandt-meesterstuk met KI gerestoureer

“Die Nagwag” deur Rembrandt van Rijn (Foto: Skermgreep uit video deur Rijksmuseum)

Dit was een van die ergste oortredings van kunsvandalisme. In 1715 is groot stukke van Rembrandt van Rijn se meesterstuk, “Die Nagwag”, afgesny om die kolossale skilderdoek in ʼn nuwe huis te laat pas.

Nou, vir die eerste keer in meer as 300 jaar kan besoekers aan Amsterdam se Rijksmuseum die skildery in sy oorspronklike formaat sien, danksy ʼn uitstekende rekonstruksie van die verlore stukke.

Gebaseer op ʼn klein 17de eeuse afdruk van “Die Nagwag”, het wetenskaplikes van kunsmatige intelligensie gebruik gemaak om die vermiste dele te herskep. Dit is uitgedruk en rondom die bekende kunswerk vasgemaak.

“Dis baie opwindend om te sien,” het Taco Dibbits, direkteur van die Rijksmuseum, aan AFP gesê. “Mens ken die skildery al van kleins af, en skielik voel jy of jy ʼn tree 300 jaar terug in tyd gegee het.”

Die rekonstruksie het die werklike dinamika van Rembrandt se oorspronklike komposisie onthul met twee sleutelpersone in die middel van die skildery – kapt. Frans Banninck Cocq en lt. Willem van Ruytenburch, wat nou effens eenkant toe staan, verduidelik Dibbits.

Die verlore figure van twee mans en ʼn klein seun is ook aan die linkerkant gerestoureer waar ʼn 60 cm lange strook van die skildery afgesny is. Selfs in sy kleiner formaat is die skildery 3,79 m by 4,36 m.

Die Rijksmuseum, wat onlangs oopgemaak het ná maatreëls teen die Covid-19-pandemie verslap is, sal die panele drie maande lank in plek hou as deel van ʼn yslike restourasie aan die skildery wat in 2019 van stapel gestuur is.

Rembrandt het “Die Nagwag” in 1642 geverf op versoek van Cocq, die burgemeester en leier van die burgerwag van Amsterdam, om offisiere en ander lede van die weermag uit te beeld. Dit het 73 jaar in die burgerwag se klubhuis gehang voor die skildery na Amsterdam se stadsaal gestuur is, waar dit tussen twee deure sou hang, “maar nie ingepas het nie”, verduidelik Dibbits. “Die mense wat dit geskuif het, het toe besluit om dit kleiner te sny en regtig net ʼn skêr gevat en stukke aan al vier kante afgesny. Die stroke wat afgesny is, is nooit gevind nie.

Dit was die een van eerste beproewinge vir “Die Nagwag”. Dit is in 1911 met ʼn mes gesteek, dit is in ʼn solder weggesteek toe Nazi-Duitsland Nederland binnegeval het, dit is weer met ʼn mes gesteek in 1975 en in 1990 is suur daarop gespuit.

Die rekonstruksie van die vermiste stukke is moontlik gemaak omdat ʼn kleiner weergawe in die 17de eeu deur die kunstenaar Gerrit Lundens gemaak is. Dié afdruk is egter in ʼn ietwat ander styl en kleur en uit ʼn effense ander perspektief.

Die oplossing was “om kunsmatige intelligensie kunsskool toe te stuur”, sê Robert Erdmann, senior-wetenskaplike aan die Rijksmuseum, wat aan die hoof gestaan het van die projek.

“Mens sou nie die kleiner een net kon vergroot en langs ‘Die Nagwag’ kon hang nie. Ek het drie afsonderlike neurale netwerke opgelei om die proses te help, so dis ʼn tipe kunsmatige intelligensie waar ons die rekenaar kan leer deur vir hom voorbeelde te gee,” het hy aan AFP gesê.

Die rekenaar het Rembrandt se oorspronklike kunswerk met die afdruk vergelyk, en toe dit die styl bemeester het, het Erdmann begin om die verlore stukke te herskep.

Die nabootsing was só suksesvol dat die rekenaar selfs geleer het om die fyn krakies in die oppervlak van “Die Nagwag” na te maak.

Die beeld is uiteindelik op skilderdoek uitgedruk, vernis en toe op vier metaalrame vasgemaak en rondom die skildery gehang.

“Dit was ʼn vreugde om die gerestoureerde skildery te sien,” sê Erdmann. “Dit verander regtig die hele komposisie.”

Klik hier om ‘n video van die restourasieproses te sien van die Rijksmuseum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Martie Smartie ·

Eish, toe ek die opskrif sien, wonder ek wat het ‘n skildery met kunsmatige inseminasie uit te waai. Wonder of daar vandag nog meesterstukke geskilder word wat oor 300 jaar miljoene werd gaan wees?

Tiptol ·

Fantasties dat hul dit kon doen. Ek het die voorreg gehad om die skildery te sien in Nederland. Ongelooflike werk en regtig imposant.

Danie ·

Wonderlik.
Net n eerste wereld wat so iets sal kan uitdink en tot uitvoering kan bring.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.