Rembrandt se vroegste skilderye in sy tuisstad te sien

Rembrandt se eerste skilderye. (Foto: REMKO DE WAAL / ANP MAG / ANP via AFP)

Skilderye wat Rembrandt van Rijn, meester van die Nederlandse Goue Eeu, gemaak het toe hy net 18 jaar oud was, word binnekort vir die eerste keer almal saam in Leiden, sy tuisstad, vertoon.

De Lakenhal-museum, net ʼn hanetreetjie van waar Rembrandt se ateljee destyds vermoedelik was, het Donderdag die vier skilderye aan die media gewys.

Die skilderye is deel van ʼn reeks wat die vyf sintuie verbeeld. Dit sluit in Die brilverkoper, verwysende na sig, Drie musikante, verwysende na gehoor, Flou pasiënt, verwysende na reuk, en Die operasie, verwysende na aanraking.

Die vyfde skildery in die reeks wat smaak verbeeld, kon nog nooit opgespoor word nie.

“Dit bly vreemd. Ons is redelik seker dat Rembrandt eintlik vyf skilderye in hierdie reeks geskep het, want daar is vyf sintuie en nie vier nie,” het Janneke van Asperen, die museumkurator, aan AFP gesê.

“Ons het geen benul waar dié skildery kan wees nie. Miskien is dit nog iewers op iemand se solder. Of dalk is dit weg. Ons hoop natuurlik om dit te vind.”

Rembrandt se eerste skilderye. (Foto: REMKO DE WAAL / ANP MAG / ANP via AFP)

Die skilderye wys dat Rembrandt op ʼn jong ouderdom konvensie uitgedaag het, sê die museum in ʼn verklaring, aangesien die sintuie in 16de-eeuse kuns gewoonlik as vrouefigure voorgestel is.

“Die talent wat ons in hierdie werke sien is reeds uitsonderlik,” het Van Asperen gesê.

Daar is nietemin sekere elemente in die skilderye wat dui op die werk van ʼn baie onervare skilder, soos die uitbeelding van die koppe, aldus Van Asperen.

Dié vroeë werk toon wel tekens van wat eindelik Rembrandt se kenmerkende eienskappe sou word, soos breë kwashale en die gebruik van chiaroscuro, ʼn tegniek wat kontraste tussen donker en lig beklemtoon om driedimensionele figure met dramatiese effek te skep.

“Ons sien uit daarna om Nederlandse sowel as internasionale besoekers bekend te stel aan die heel vroegste werk uit Rembrandt se hand en die talent wat die kunstenaar reeds op so ʼn jong ouderdom getoon het,” het Tanja Elstgeest, die museumdirekteur, Donderdag bygevoeg.

Die skilderye is van Saterdag (20 Januarie) tot 16 Junie in De Lakenhal-museum in Leiden te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.