Die rock ʼn’ roll-legende Chuck Berry is Saterdag in die ouderdom van 90 by sy huis in St. Charles, Missouri, in die VSA oorlede.
Die plaaslike polisie het gesê Berry se versorger het die nooddienste omstreeks 12:40 na die huis ontbied. Berry het geen tekens van lewe getoon nie en paramedici het hom probeer bybring, maar hy is om 13:30 dood verklaar.
Berry wat bekend was vir treffers soos “Johnny B. Goode,” “Sweet Little Sixteen” en “Roll Over Beethoven”, het ʼn ingrypende invloed op ander groot name in die rock ʼn’ roll-genre gehad, van die Beatles tot die Rolling Stones. Hy was ook die eerste naam om in die Rock ʼn’ Roll Hall of Fame opgeneem te word.
Die Beatles se tromspeler, Ringo Starr, het in reaksie op die nuus van Berry se dood getwiet: “Just let me hear some of that rock ’n’ roll music any old way you choose it …”, ʼn liriek uit een van Berry se treffers. Bruce Springsteen het Berry op Twitter beskryf as die grootste naam, kitaarspeler en rock ʼn’ roll-skrywer wat ooit gelewe het.
Brian Wilson van The Beach Boys het Berry as ʼn groot inspirasie beskryf en gesê hy sal deur alle rock-liefhebbers gemis word. Lenny Kravitz het gesê nie een van vandag se rock ʼn’ roll-musikante sou hier gewees het sonder Berry se invloed nie.
rus in vrede ou grote.
Rus in vrede jou musiek sal voort leef.
Hy was n baanbreker . Slaap rustig .
R.I.P. Chuck. Ek het jou R and R geniet sinds die 50er jare. Daar is nou 3 oor van daardie tyd af : Fats Domino , Little Richard en Jerry Lee Lewis.
Ek sê altyd vir my kinders as mens se gunsteling sangers bykans almal oorlede is, dan weet jy jy word nou oud.
Hy sal altyd een van die grootes bly. RIP