Rusland nou voorsitter van VN-veiligheidsraad

Vlag van Rusland (Foto: Evgeni Tcherkasski/Pixabay)

Rusland sal vandeesmaand die presidentskap van die VN se veiligheidsraad oorneem waar sy minister van buitelandse sake as voorsitter van dié raad se vergadering sal optree.

Hierdie leiersposisie roteer maandeliks tussen 15 lidlande en Rusland was laas in Februarie verlede jaar voorsitter van die raad.

Verskeie lande is egter van mening dat Rusland geheel en al van die raad uitgesluit moet word weens sy voortslepende oorlog in Oekraïne.

Oekraïne se minister van buitelandse sake sê dit is ʼn “slegte grap” dat Rusland op 1 April die posisie oorneem.

Maria Zakharova, woordvoerder van Rusland se minister van buitelandse sake, het vroeër vandeesweek bevestig dat minister Sergei Lavrov vir die hele April as voorsitter sal optree.

“ʼn Sleutelgebeurtenis van die Russiese presidentskap sal ʼn debat wees oor ‘effektiewe multilateralisme deur die verdediging van die beginsels van die VN se handves’.”

Sy het bygevoeg dat Lavrov ook beplan om op 25 April ʼn debat oor die Midde-Ooste te lei.

Die VSA het Rusland se besluit om deel van die VN se veiligheidsraad te bly, gekritiseer.

Karine Jean-Pierre, woordvoerder van die Withuis, sê “ʼn land wat die VN se handves blatant oortree deur sy buurland in te val, het geen plek in die VN se veiligheidsraad nie”.

“Ongelukkig is Rusland ʼn permanente lid van die veiligheidsraad en geen haalbare internasionale regsweg bestaan om daardie werklikheid te verander nie.”

Linda Thomas-Greenfield, Amerikaanse ambassadeur by die VN, sê sy verwag dat Rusland professioneel sal optree in die tyd wat hy die leiersposisie beklee, maar betwyfel tog Rusland se motiewe in hierdie tyd.

“Ons verwag dat Rusland elke geleentheid sal gebruik om sy veldtog teen Oekraïne en sy bondgenote te versterk,” sê sy.

“Ons sal wel by elke geleentheid ons kommer oor Rusland se optrede opper.”

Rusland sal min invloed op die besluite van die veiligheidsraad hê, maar eerder net in beheer wees van sy agenda.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.