Rusland sê ekonomie sal teen 2024 sanksies gewoond wees

Michail Misjoestin (2018) (Foto: Kremlin.ru via Wikimedia Commons)

Rusland sal teen 2024 heeltemal gewoond wees aan Westerse sanksies, het die land se eerste minister Donderdag gesê. Volgens hom het Rusland internasionale pogings, om dit te isoleer, oorleef.

Ná die Kremlin verlede jaar troepe na Oekraïne gestuur het, is Moskou se ekonomie met ʼn rits sanksies getref en talle groot Westerse maatskappye het uit die land onttrek. Duisende opgeleide professionele werkers het ook Rusland verlaat.

Eerste minister Michail Misjoestin het die skade van die sanksies erken, maar belowe dat die land vinnig sal herstel.

“Kom ons wees realisties: die eksterne druk op Rusland verswak,” het hy gesê. “Maar ons verwag steeds dat die aanpassingsperiode in 2024 tot ʼn einde sal kom. Rusland is op die pad van langtermyn progressiewe ontwikkeling.”

Dit volg ʼn dag ná president Wladimir Poetin sy Chinese eweknie, Xi Jinping, in Moskou ontvang het vir ʼn vergadering wat gefokus het op hul toenemende ekonomiese bande en ʼn verenigde front teen die Weste.

Misjoestin verwelkom die “toenemende samewerking met vriendelike lande, met diegene wat ons mening en waardes deel”.

Hy het Poetin se uitlatings herhaal dat die Weste se sanksies, “ongeëwenaar in onlangse geskiedenis”, gewone Russe geteiken het. “Gewone mense van Rusland was die teiken, maar ons het oorleef.”

Volgens Rosstat, die nasionale statistieke agentskap, het Rusland se ekonomie verlede jaar met sowat 2,1% gekrimp. Die Internasionale Monetêre Fonds verwag ʼn effense toename van sowat 0,3% vir vanjaar.

Misjoestin is in 2020 aangestel en sê sy regering se prioriteite is “om ons soldate al die nodige hulp te verleen” en “die welstand van ons burgers te verbeter”.

Hy sê Rusland se minimumloon, tans 16 242 roebels (sowat R3 800), sal vanaf volgende Januarie met 18,5% verhoog word – dit is hoër as die huidige inflasievlakke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.