Ses dood, agt beseer in aanval op gemeente

(Foto: Daniel Reinhardt/AFP)

ʼn Voormalige lid van die Jehovah-getuies het Donderdagaand met ʼn vuurwapen by sy voormalige gemeente in Hamburg, Duitsland, ingestorm en op die gemeentelede losgebrand. Ses mense is doodgeskiet en agt gewond voordat die skieter sy eie lewe geneem het.

Die polisie het die gewapende man geïdentifiseer as Philipp F (35), ʼn voormalige lid van die geloofsgroep wat die gemeente sowat 18 maande gelede verlaat het “maar glo nie op goeie voet nie”.

Die motief agter die skietery word ondersoek. Volgens die ondersoekspan is daar geen aanduiding dat dit ʼn terreuraanval was nie.

Volgens die polisie het die man verskeie skote op ʼn motor afgevuur op pad na die kerk. Die vrou in die motor het met ligte beserings ontsnap en die polisie gekontak.

Die aanvaller het op die kerk se venster geskiet en daarna die gebou binnegegaan en op die kerkgangers begin skiet. Daar was sowat 40 mense by die diens teenwoordig, met nog 25 mense wat aanlyn na die diens gekyk het.

Nooddienste het omstreeks 21:00 die eerste noodoproepe ontvang en die polisie het minute later by die kerk opgedaag en die skietery onderbreek. Die skieter het gevlug deur na die eerste verdieping van die gebou te gaan, waar hy sy eie lewe geneem het.

“Ons kan aanvaar dat die vinnige polisie-optrede baie lewens gered het,” sê Andy Grote, minister van binnelandse sake in Hamburg,

Die polisie het aanvanklik gesê die skietery het die lewe van agt mense geëis, wat die gewapende man en ʼn sewe maande oue fetus insluit. Die swanger ma is gewond, maar het oorleef terwyl die fetus die aanval nie oorleef het nie.

ʼn Anonieme wenk is in Januarie vanjaar aan die Duitse wapenbeheerowerheid gestuur waarin beweer word dat Philipp F moontlik aan ʼn ongediagnoseerde sielkundige siekte gely het en dat hy ʼn besondere woede teen godsdienstige lede of teen die Jehovah-getuies en sy voormalige kerk het.

Polisie het ná die skietery die man se woonstel deursoek en 15 magasyne wat met 15 koeëls gelaai is sowel as vier pakke ammunisie met 200 patrone gekry.

Die vereniging van die Jehovah-getuies in Duitsland het gesê hy is “hartseer oor die grusame aanval op sy lede”.

Kanselier Olaf Scholz het die “brutale daad van geweld” veroordeel en gesê sy gedagtes is by die slagoffers en hul geliefdes.

Nancy Fäser, minister van binnelandse sake in Duitsland, het Vrydag tydens ʼn televisie-onderhoud ten gunste van strenger wetgewing oor vuurwapens in Duitsland gepraat.

ʼn Wetsontwerp wat nou opgestel word, wil ʼn mediese sertifikaat ʼn vereiste maak vir ʼn permit om wapens te dra. Maar sonder bewyse van onbevoegdheid om wapens te dra, is dit “baie moeilik” om in te gryp nadat ʼn permit toegestaan is, het sy gesê.

Voorval op kamera vasgevang

(Foto: Daniel Bockwoldt/AFP)

Inwoners wat naby die kerk woon vertel hulle het Donderdagaand verskeie skote gehoor.

“Ons seun het die hele voorval verfilm, hy kon die gebeure redelik goed van die huis af sien,” het Bernd Miebach, ʼn 66-jarige sake-eienaar, gesê.

“In die video kan jy sien iemand breek ʼn venster, waarna jy skote hoor klap en sien dat iemand by kerk inbreek.”

Die polisie het getuies gevra om na vore te kom en enige foto’s of video’s te deel.

Nog ʼn inwoner het gesê die polisie het binne “vier of vyf minute” by die toneel opgedaag.

“Ons het skote gehoor en ons het geweet iets groot is aan die gebeur,” sê die vrou, wat net haar voornaam Anetta gegee het.

Sy het gesê sy weet dat die gebou deur lede van die Jehovah-getuies-gemeenskap gebruik word en beskryf hulle as “baie rustig en stil”.

Die drieverdiepinggebou was Vrydag steeds afgesper met verskeie polisiebeamptes wat buite gestaan het.

Duitsland het ongeveer 175 000 Jehovah-getuies, insluitend 3 800 in Hamburg. Die Amerikaanse beweging identifiseer as deel van die Christelike geloof, en is in die laat 19de eeu gestig en duld nie geweld nie. Die groep is ook bekend vir deur-tot-deur-evangelisasie.

Geteiken met aanvalle

Duitsland is die afgelope paar jaar deur verskeie aanvalle geruk, beide deur jihadiste en verregse ekstremiste.

Van die dodelikste wat deur Islamitiese ekstremiste gepleeg is, was ʼn vragmotorramp by ʼn Berlynse Kersmark in Desember 2016 wat die lewe van 12 mense geëis het.

Duitsland is ook getref deur ʼn reeks verregse aanvalle, wat beskuldigings laat ontstaan het dat die regering nie genoeg gedoen het om nieu-Nazi-geweld uit te roei nie.

In Februarie 2020 het ʼn verregse ekstremis tien mense doodgeskiet en vyf gewond in die Duitse stad Hanau.

In 2019 is twee mense dood toe ʼn nieu-Nazi ʼn sinagoge in Halle op Jom Kippoer, die Joodse vakansiedag, probeer bestorm het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.