Ses dood toe vragmotor mense by braai tref

Die ongelukstoneel waar ‘n trok in Nederland in feesgangers by ‘n braai geploeg het. (Foto: Twitter)

Ses mense is dood en sewe beseer toe ʼn vragmotor in Nederland die pad verlaat het en in mense by ʼn braai geploeg het. Die braai is na wat verneem word deur ʼn plaaslike ysskaatsklub aangebied.

Die ongeluk het Saterdag rondom 18:00 plaasgevind toe die vragmotor met ʼn Spaanse nommerplaat die pad in die dorp Nieuw-Beijerland, 30 km buite Rotterdam, verlaat het.

Volgens ooggetuies het die vragmotor vir ʼn oomblik by ʼn T-aansluiting op die smal Zuidzijdsedijk stilgehou, voordat dit weer weggetrek en in die groep mense ingeploeg het.

Die slagoffers is drie vroue van 28, 32 en 75 jaar oud, en drie mans van 41, 50 en 62 jaar oud. Almal woon in die omgewing waar die ongeluk plaasgevind het. Volgens Mirjam Boers, woordvoerder van die Nederlandse polisie, is een persoon in ʼn kritieke toestand in die hospitaal. “Ons is besig om te ondersoek wat presies gebeur het.”

Drie van die slagoffers was lede van dieselfde familie – ʼn ma, haar seun en skoondogter, wat boonop agt maande swanger was.

Foto’s van die toneel wys dat die vragmotor aan die El Mosca-maatskappy, gebaseer in Spanje, behoort. Volgens Boers is die bestuurder van die vragmotor in hegtenis geneem. Hy was nie onder die invloed van alkohol ten tyde van die ongeluk nie. “Hy word daarvan aangekla dat hy ʼn noodlottige ongeluk en ernstige liggaamlike beserings veroorsaak het. Ons ondersoek nog wat presies sy rol in die ongeluk was.”

Koning Willem-Alexander en koningin Maxima sowel as die Nederlandse premier het hul skok en hartseer oor die tragedie uitgespreek.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Phil ·

Dis baie hartseer. As die een vrou agt maande swanger was, is daar nie ses nie maar sewe slagoffers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.