Ses sterf in tornado’s in Tennessee

(Foto: @Frankieusn1987/Twitter)

Minstens ses mense is Saterdag dood toe tornado’s die Amerikaanse deelstaat Tennessee getref het. Huise is beskadig en kragonderbrekings is veroorsaak, het owerhede gesê.

Drie mense is dood in ʼn voorstad van Nashville, die suidoostelike staat se hoofstad. Die stad se nooddienste het foto’s gedeel van bome wat omgeval het en huise wat verwoes is.

“Ongelukkig kan ons drie sterftes bevestig weens erge weer in Nesbittlaan,” het die kantoor op X (Twitter) gesê.

In Clarksville, sowat 65 km daarvandaan, is twee volwassenes en ʼn kind oorlede weens ʼn tornado, aldus ʼn verklaring van Montgomery County. “Altesaam 23 mense word by ʼn hospitaal vir beserings behandel.”

Nooddiensbeamptes is nog “in die soek- en reddingsfase van hierdie ramp,” het die owerheid bygevoeg. Inwoners is versoek om eerder tuis te bly.

Clarksville-burgemeester Joe Pitts het ʼn noodtoestand afgekondig en ʼn aandklokreël van Saterdagaand om 21:00 ingestel.

“Ek dink dit is nodig vir die gesondheid, veiligheid en welstand van die gemeenskap om ʼn aandklokreël in te stel vir die stad Saterdagaand en Sondagaand,” het Pitts in ʼn verklaring gesê.

Sowat 52 000 kliënte het Saterdagaand kragonderbrekings aangemeld, ʼn afname van die vorige 86 000, aldus poweroutage.us, ʼn webwerf wat kragonderbrekings monitor.

Telecoms-verskaffer CDE Lightband het gesê meer as 14 000 van sy kliënte in Clarksville sit sonder elektrisiteit.

“Ons sal almal onverpoosd werk om die krag so vinnig en veilig as moontlik te herstel,” het die maatskappy op X gesê.

Foto’s van plaaslike media wys talle huise wat deur sterk wind getref is, bome wat omgeval het, en voertuie en kragdrade wat omgeslaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.