Sesjarige skiet onderwyser glo met opset in klas

’n Sesjarige seuntjie het sy onderwyseres by die Richneck Elementary School in die VSA geskiet en beseer. (Foto: Facebook / Dan Kennedy)

ʼn Sesjarige seuntjie van Richneck Elementary School in Virginia in die VSA is tans in polisieaanhouding nadat hy sy onderwyseres glo opsetlik met ʼn handvuurwapen geskiet het. Die skool is in Newport News, ʼn stad in dié deelstaat, geleë.

Die voorval het Vrydagmiddag in ʼn klaskamer plaasgevind. Niemand anders is beseer nie, hoewel die onderwyseres, wat in haar 30’s is, “lewensbedreigende beserings” opgedoen het. Haar naam is nie bekend gemaak nie.

Steve Drew, hoof van die Newport News-polisie, sê die skietvoorval was nie ʼn ongeluk nie. ʼn Volledige ondersoek sal nou gedoen word om vas te stel wat tot die skietery gelei het en waar die seun die vuurwapen gekry het. Die polisie het nie gesê watter soort vuurwapen gebruik is nie, behalwe dat dit ʼn handvuurwapen was.

NBC News berig die kind en onderwyseres was alleen in die klaskamer toe ʼn onderonsie glo ontstaan en een skoot afgevuur is. Sy is kort ná die voorval na ʼn hospitaal gehaas.

“Haar beserings is steeds lewensbedreigend, maar volgens die jongste inligting wat ons ontvang het, is daar effense verbetering,” het Drew Vrydagaand gesê.

Drew het verder bevestig dat die voorval geïsoleerd en tot die klaskamer beperk was, en dat dit nie ʼn geval was waar iemand op die skoolgrond rondgehardloop en mense probeer skiet het nie.

Die kind se identiteit word weens sy ouderdom nie bekendgemaak nie.

Burgemeester Phillip Jones het gesê die voorval breek sy hart.

“Dis ʼn donker dag vir Newport News. Ons sal hieruit moet leer en ons sal sterker hieruit opstaan,” het hy volgens CBS News gesê.

“Ek is verstom, geskok en ontmoedig,” het George Parker III, superintendent van Newport News Public Schools, Vrydagaand by ʼn nuuskonferensie gesê.

“Ons leerders het vandag ʼn les in vuurwapengeweld gehad. Dis verskriklik.

“Dis iets wat nooit moet gebeur nie, en ek dink ons is almal verbaas. Ons almal verstaan dat ons as gemeenskap ʼn groot taak op hande het om te verseker dat so iets nie weer gebeur nie.”

Parker sê die skool sal Maandag gesluit wees.

Volgens CBS News word metaalopsoringstoestelle lukraak in die skooldistrik gebruik, en word elke skool nie elke dag vir die besit van vuurwapens nagegaan nie.

Die voorval het ook opnuut tot oproepe vir strenger vuurwapenwetgewing en -beheer in die VSA gelei. 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.