Sinéad O’Connor sterf

(Foto: Fred Tanneau/AFP)

Sinéad O’Connor se stem is stil.

Die Ierse popsensasie wat in die 1990’s wêreldwye gewildheid verwerf het, is Woensdag op die ouderdom van 56 oorlede.

Haar familie en vriende is verpletter en het privaatheid versoek in dié moeilike tyd.

“Dit is met groot hartseer dat ons die dood van ons geliefde Sinéad aankondig,” het die familie Woensdag aan die Ierse nasionale uitsaaier RTE gesê.

O’Connor, gebore in die Ierse hoofstad Dublin, het tien albums in haar loopbaan opgeneem. Daar was alles van “I Do Not Want What I Haven’t Got” tot “I’m not Bossy, I’m the Boss”, maar sy was veral bekend vir die weergawe wat sy van Prince se “Nothing Compares 2 U” in 1990 uitgereik het.

Michael Higgins, Ierse president, sê die land het “een van die grootste en mees begaafde komponiste, liedjieskrywers en kunstenaars van die afgelope dekades” verloor.

Higgins het ook O’Connor se “vreeslose verbintenis tot die belangrike kwessies wat sy onder die openbare aandag gebring het” geloof.

Leo Varadkar, die Ierse premier, sê O’Connor se “musiek was wêreldwyd gewild en haar talent was ongeëwenaard”.

“Ons betuig ons innige meegevoel met haar familie, haar vriende en almal wat van haar musiek gehou het.”

O’Connor – wat veral ook herkenbaar was danksy haar beroemde borselkop – het regdeur haar loopbaan omstredenheid trompop geloop en gereeld kritiek op die Rooms-Katolieke Kerk gelewer.

Die kunstenaar het gesê sy is as kind deur haar ma mishandel en het in 1992 teen die mishandeling van kinders deur die Rooms-Katolieke Kerk opgestaan – sy het onder meer ʼn foto van pous Johannes Paulus II op die Amerikaanse televisieprogram Saturday Night Live opgeskeur.

Meer onlangs het O’Connor haar uitgesproke politieke sienings met spiritualisme vermeng en is sy te midde van groot omstredenheid in 1999 tot priester georden.

Sy het haar later tot Islam bekeer en haar naam in 2018 na Shuhada’ Sadaqat verander.

Medelye en huldeblyke stroom intussen in.

“Rus in vrede Sinéad O’Connor, ek was mal daaroor om saam met jou te werk en foto’s te maak, optredes in Ierland te doen en om met jou te gesels. Al my liefde vir jou familie,” het die Kanadese sanger Bryan Adams op Twitter (deesdae X) geskryf.

Die Ierse komediant Dara O Briain sê O’Connor se dood is “baie hartseer nuus”.

“Ek hoop sy het besef hoeveel liefde daar vir haar was.”

Conor McGregor, die Ierse gemengde gevegskuns-superster, sê die wêreld het ʼn kunstenaar verloor “met die stem van ʼn engel”.

“Ierland het ʼn ikoniese sanger en een van die absoluut beste stemme verloor. En ek het ʼn vriend verloor.”

Tim Burgess, hoofsanger van die 90’s rockgroep, The Charlatans, het ook sy medelye betuig en gesê O’Connor was die “ware verpersoonliking van ʼn punk gees”.

Volgens Colm O’Gorman, uitvoerende direkteur van Amnestie-Internasionaal Ierland, is dit moeilik om aan nog ʼn kunstenaar te dink wat dieselfde maatskaplike en kulturele invloed het as wat O’Connor gehad het.

“Wat ʼn verlies. My innige meegevoel gaan aan haar kinders, haar familie en almal wat haar liefgehad het.”

O’Connor was ook bekend daarvoor dat sy maklik in die openbaar oor haar geestesgesondheidstryd kon praat. Sy het in 2007 aan Oprah Winfrey gesê dat sy met selfmoordgedagtes sukkel en dat bipolêre versteuring by haar gediagnoseer is.

Sy het in die laaste jare die kollig vermy, veral ná die dood van haar 17-jarige seun, Shane, wat verlede jaar sy eie lewe geneem het.

O’Connor word oorleef deur nog drie kinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Charles ·

Ek het nog nooit n engel hoor sing nie, maar Sinéad het n baie mooi stem gehad.

Elmarie ·

Soos sy hier gelyk het, was sy absolute beeldskoon. Daai oë, gesig…ai dis jammer. Wonderlike stem en sy het gestaan by waarin sy geglo het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.