Skieter brand los by drie spa’s

‘n Polisiebeampte staan buite die Gold Massage Spa in Atlanta waar ‘n skieter losgebrand het. (Foto: Elijah Nouvelage / AFP)

Agt mense, ses van hulle Asiese vroue, is dood in skietvoorvalle by drie verskillende spa’s in die Amerikaanse deelstaat Georgia.

’n 21-jarige verdagte is in aanhouding in verband met al drie voorvalle.

Vier van die slagoffers is doodgeskiet by die spa Young’s Asian Massage naby Acworth, ʼn voorstad van die hoofstad Atlanta, berig die Atlanta Journal-Constitution.

Kapt. Jay Baker van die sheriff se kantoor in Cherokee County sê twee Asiese vroue, ʼn wit vrou en ʼn wit man is in dié skietvoorval dood. ʼn Spaans-Amerikaanse man is tydens die voorval gewond.

Die polisie in Atlanta het op sy beurt gesê vier vroue is by twee sakeondernemings in die noordooste van Atlanta dood aangetref. Dié ondernemings is geïdentifiseer as die Gold Massage Spa en Aroma Therapy Spa.

Drie van die vroue se liggame is in een van die spa’s gevind. Al drie het skietwonde opgedoen. Polisiebeamptes was op die toneel besig toe hulle in kennis gestel is van skote wat oorkant die straat geklap het. ’n Vierde liggaam is hiér gevind.

Die polisie het aan die Atlanta Journal-Constitution bevestig dat al vier slagoffers Asiese vroue was.

Robert Aaron Long is as verdagte in al drie skietvoorvalle geïdentifiseer.

Sers. John Chafee, woordvoerder van die polisie in Atlanta, het op grond van beskikbare beeldmateriaal van die skiettonele aan AFP gesê “dit is waarskynlik dat ons verdagte dieselfde [man] is as die persoon wat in Cherokee County in aanhouding is”.

Chafee het gesê die twee owerhede werk nou saam om seker te maak dat die voorvalle met mekaar verband hou.

Die Federale Buro vir Ondersoek (FBI) sal die plaaslike owerhede met die ondersoek bystaan, het ʼn woordvoerder aan AFP gesê.

Dié skietvoorvalle volg kort ná berigte oor toenemende aanvalle die afgelope paar maande op Asiese Amerikaners, hoofsaaklik bejaardes. Aktiviste beweer dat die Covid-19-pandemie die aanvalle aanvuur, veral nadat oudpres. Donald Trump én ander herhaaldelik na die koronavirus as die China-virus verwys het.

Die aktivistegroep Stop AAPI Hate het slegs ure voor die skietvoorvalle in Georgia ’n verslag bekend gemaak wat ’n duidelike toename in haatmisdade teenoor Asiese Amerikaners toon. Dit blyk uit die verslag dat vroue veral geteiken word.

In ʼn aantal voorvalle wat tussen Maart verlede jaar en Februarie vanjaar by die groep aangemeld is, het byna 70% van die Asies-Amerikaanse respondente gesê dat hulle die afgelope jaar verbaal geteister is. Net meer as een uit die tien het gesê dat hulle fisiek aangerand is.

Volgens die Asian American Advocacy Fund het Georgia byna 500 000 Asiese inwoners – net meer as 4% van die deelstaat se bevolking.

Die Demokratiese Party in Georgia het Dinsdag se skietery as “afgryslik” bestempel.

“Namate besonderhede aan die lig kom, is dit duidelik dat hierdie aanval ongelukkig ooreenstem met die onaanvaarbare patroon van geweld teenoor Asiese Amerikaners wat tydens die pandemie die hoogte ingeskiet het,” het Nikema Williams, kongreslid en voorsitter van die staatsparty, gesê.

Pres. Joe Biden het Amerikaners verlede Donderdag toegespreek en in sy toespraak die
“kwaadwillige haatmisdade teen Asiese Amerikaners wat aangeval, geteister en geblameer word,” veroordeel.

“Dit is verkeerd. Dit is nie Amerikaans nie. En dit moet einde kry,” het die president gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

SwartBees ·

***POOF**** en net so is dit Trump se skuld. Eienaardige redenasie. Ek praat ook van die Shina-virus.

Magda ·

ja nee wat – julle is vinnig oppad na SA se vlak. ALL LIVES MATTER. maar in SA MATTER ONLY BLACK LIVES en dit lyk amper of Amerika dieselfde will toelaat.

Vrijburger ·

Swak joernalistiek Maroela Media – om bloot eksterne bronne klakkeloos aan te haal. Insluitend die ongegronde en voortydige gevolgtrekkings mbt tot die motiewe vir die aanval. (Die polisie het aangedui dat die aanval bes moontlik nie ras gemotiveerd is nie, maar eerder verband hou met die aanvaler se seksverslawing.)

Terloops, dit blyk toenememend dat die haat aanvalle teen Amerikaanse Assiate hoofsaaklik deur jong Afro-Amerikaanse mans in hoofsaaklike Blou / Demokratiese stede gepleeg word. Dus nie jou tipiese Republikeinse / Trump ondersteuner nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.