Skieter dood ná hy in kerk losbrand

‘n Skermskoot van die regstreekse uitsending ten tyde van die skietery. (ANA)

Twee kerkgangers het ’n man doodgeskiet wat Sondag in ’n kerk in die Amerikaanse deelstaat Texas losgebrand en twee medekerkgangers doodgeskiet het.

Die skieter het saam met ander kerkgangers ’n erediens by die West Freeway Church of Christ in White Settlement, ’n voorstad noordwes van Fort Worth, bygewoon. Dié diens is regstreeks op YouTube uitgesaai onderwyl sowat 240 kerkgangers die oggenddiens bygewoon het.

In die beeldmateriaal kan gesien word hoe die skieter gedurende die erediens omstreeks 11:50 plaaslike tyd uit ’n kerkbank opstaan en met iemand agter in die kerk praat. Hy bring dan ’n vuurwapen te voorskyn en vuur skote af terwyl gemeentelede onder die kerkbanke induik vir skuiling. Twee mense is egter doodgeskiet.

Twee ander gewapende kerkgangers, wat ook vrywilligers van die kerk se veiligheidspan is, het egter spoedig gereageer en op hul beurt die skieter doodgeskiet.

Owerhede Sondag buite die West Freeway Church of Christ in Texas. (Foto: Juan Figueroa/The Dallas Morning News via AP)

“Hierdie span het vinnig gereageer en binne ses sekondes was die skietery verby,” het lt. Dan Patrick van die plaaslike polisie ná die voorval gesê.

Britt Farmer, senior predikant van die kerk, het gesê: “Ons het vandag twee wonderlike mans verloor, maar dit kon baie erger gewees het.”

Dit is nie die eerste dodelike skietery wat by ’n kerk in Texas plaasvind nie. In November 2017 het Devin Patrick Kelley op kerkgangers in ’n kerk in Sutherland Springs losgebrand en meer as 20 gemeentelede doodgeskiet voordat hy homself om die lewe gebring het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.