Skietery in kerk eis lewe van drie bejaardes

Robert Finlay Smith, die man wat verdink word van die skietery. (Foto: CBS / Jefferson county jail)

Drie bejaardes is dood toe ʼn 70-jarige man Donderdag by ʼn kerk in Alabama in die VSA op mense losgebrand het.

Robert Finlay Smith het nou en dan dienste van die St. Stephen Episkopaal- kerk bygewoon en was teenwoordig by ʼn ete wat die kerk Donderdag aangebied het, toe hy ʼn klein handwapen uitgepluk en op lede van die gemeente begin skiet het.

Die 84-jarige Walter Rainey en die 75-jarige Susan Yeager is in die proses noodlottig gewond voordat ʼn ander lid van die kerk Smith onder bedwang kon bring. Nog ʼn 84-jarige vrou is gewond en het later in die hospitaal aan haar wonde beswyk.

Nooddienste het Donderdag net ná 18:00 op ʼn noodoproep van die kerk gereageer.

Shane Ware, ʼn polisiekaptein, het Vrydag in ʼn verklaring op die polisie se Facebook-blad gesê die persoon wat die verdagte oorrompel en vasgehou het totdat die polisie opgedaag het, is na sy mening “ʼn held”. Smith is tans in aanhouding en word aangekla van moord.

Die polisie stel nog ondersoek in na die motief vir die skietery en of die verdagte in die verlede al met die gereg gebots het. Dit is onseker hoeveel mense die kerkdiens bygewoon het.

Luidens ʼn boodskap op die kerk se Facebook-blad was die kerkleier, pastoor John Burruss, in Griekeland saam met ʼn kerkgroep en het hy Vrydag geskarrel om terug te keer na Alabama. “Ons vra dat julle vir ons gemeenskap sal bid, veral vir dié wat beseer is of familie tydens die skietery verloor het,” lui die boodskap. “Hierdie is uiters pynlik vir ons kerk en die groter gemeenskap.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.