Skrywer lewenslank tronk toe vir moord

Nancy Crampton Brophy (Foto: Verskaf deur die kantoor van die sheriff in Multnomah County via AFP)

Die Amerikaanse romanskrywer wat ʼn blog getiteld “How to kill your husband” geskryf het, is Maandag lewenslank tronk toe gestuur en dít vir die moord op haar man.

Die 71-jarige Nancy Crampton Brophy sal eers ná 25 jaar tronkstraf vir parool in aanmerking kom, het ’n regter in die Amerikaanse deelstaat Oregon bevind.

Nancy is verlede maand skuldig bevind aan die moord op haar eggenoot Daniel Brophy.

Die staat het tydens die verhoor aangevoer Brophy, die skrywer van die boekereeks “Wrong Never Felt So Right” wat die titels Wrong Husband en Wrong Lover insluit, was finansieel in die knyp voordat sy haar man in Junie 2018 doodgeskiet het.

Daniel se liggaam is destyds op die vloer van die kulinêre instituut waar hy gewerk het, aangetref. Hy het twee skietwonde gehad. Nancy is in September van daardie jaar in verband met die moord in hegtenis geneem.

Beeldmateriaal plaas Nancy in die buurt van Daniel se werkplek ten tyde van die moord. Sy het egter tydens die verhoor volgehou dat hoewel sy nie kan onthou dat sy in die betrokke buurt was nie, sy moontlik bloot na inspirasie vir haar boeke kon gesoek het.

Die vuurwapen, wat Nancy beweer sy bloot vir navorsing vir haar nuwe roman bekom het, is nooit gevind nie.

Nancy het deurgaans skuld ontken en volgehou dat die egpaar se finansiële probleme reeds voor die moord opgelos was en dat sy dus geen rede het om haar man te vermoor nie.

“Waar is die motivering?” wou Nancy tydens die verhoor weet. “’n Redakteur sal lag en sê: ‘Ek dink jy moet harder werk aan hierdie storie, daar is ʼn groot leemte daarin’.”

Nancy se blog getiteld “How to kill your husband” handel oor metodes en motiverings om van ’n ongewenste gade ontslae te raak.

Dit sluit in finansiële gewin en die gebruik van ’n vuurwapen. Nancy gee egter in die blog toe dat die gebruik van ’n vuurwapen “hard en morsig is, en ’n mate van vaardigheid verg”.

“Maar die ding wat ek wel van moord weet, is dat elkeen van ons dit in hom/haar het as ons ver genoeg gedruk word,” lui die blog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

KatjieDeKat ·

Ja almal van ons het dit in ons om te moor, Nancy, maar in selfverdediging of verdediging vd lewens van ons geliefdes. Groot verskil is, NIE almal van ons het dit in ons om te moor vir suiwer geldelike gewin of haatlikheid nie. As jy te ver gedruk word is daar die opsie om te skei of net weg te loop. Moet nou nie almal oor Jou kam skeer nie want daai boek gaan n flop wees!

Smurf ·

As ek daai tannie in die nag sien………………sal n vreeslike geskreeu en n lang bruin streep afgee….tot die honne en katte sal weghol…

Santie Gildenhuys ·

Die tronklewe gaan in haar kraal val… geen kosmaak, dalk ‘n wag of twee om nou en dan te verlei… en verder leef sy in haar ryke verbeelding! En skryf ‘n volgende boek! Ai.

Waarnemer ·

Wid is daardid regter?Kan ons hom nie hier in SA aangestel kfg nie?

Niklaas ·

Hierdie tannie lyk boos. As sy my vloek , bly ek tjoepstil. Ons gaan nou sommer menigte boeke sien voortvloei van haar af. Tronklewe behoort baie skryftyd moontlik te maak.

Johan ·

In my opinie, om in dieselfde buurt te wees as die moord toneel, is nie voldoende bewyse nie. n Motief maak ook nie noodwendig van mens n moordenaar nie. Verder is n moordwapen n bewysstuk. Nie die gebrek aan een nie.

Witbaard ·

As dit my vrou was sou ek dit sommer aan myself gedoen het en haar die moeite gespaar.

Korrelkop ·

Daar het jy dit nou; gedagtes word woorde en woorde word dade!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.