Spanje reik hand na Oekraïne in sy donker uur

Dele van Oekraïne is gereeld sonder krag. (Foto: NurPhoto/AFP)

Die oorloggeteisterde Oekraïne kan eindelik krag vir sy burgers opwek nadat Spanje 14 nuwe kragopwekkers aan die land geskenk het.

Onlangse Russiese aanvalle op Oekraïne se kragnetwerk word aangevoer as die rede waarom miljoene mense sonder krag of warm water gelaat is net voordat die winter aanbreek.

Jose Manuel Albares, Spanje se minister van buitelandse sake, het Vrydag die aankondiging gemaak dat die kragopwekkers op pad is.

“Ons het ʼn nuwe besending gestuur met die oog daarop om ʼn moeilike winter in Oekraïne te verlig.”

Spanje het verlede maand reeds vyf kragopwekkers geskenk.

Albares het bygevoeg dat Spanje nou ook 30 ambulanse en bykomende polisiemagte sal stuur om Oekraïne by te staan om moontlike oorlogsmisdade op sy grondgebied te ondersoek.

Denys Shmyhal, Oekraïne se eerste minister, het intussen die wydverspreide skade aan die land se kragnetwerk, weens Rusland se volgehoue aanvalle op sy infrastruktuur die afgelope paar weke, ondersoek. Hy meen intensiewe herstelwerk sal nodig wees.

“Rusland het Dinsdag alleen sowat 100 missiele op Oekraïense stede afgevuur. Byna die helfte van ons kraginfrastruktuur is hierdeur geraak,” het Shmyhal gesê toe hy ʼn beroep op sy Europese bondgenote gedoen het vir steun.

Volodymyr Zelensky, die Oekraïense president, het bygevoeg dat altesaam 17 provinsies en die hoofstad Kiëf sukkel met kragonderbrekings, maar dat ingenieurs daaraan werk om die kragnetwerk te herstel. Die kragonderbrekings kom glo minder gereeld voor.

Die Russiese ministerie van verdediging het Vrydag teruggekap op Oekraïne se uitlatings en gesê hy rig slegs sy aanvalle op militêre fasiliteite en dat ʼn reeks langafstandaanvalle die vorige dag “presies die aangewese teikens getref het”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

andre ·

Nou verstaan ek nie, Volgens die Westerse media is Oekranie met behulp van sy meelopers besig om vir Rusland n groot pak slae te gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.