Sport, honde en pensioenarisse: Welkom by Nederlandse politiek

(Foto: Robin Utrecht/AFP)

Nederlandse kiesers sal ʼn verbysterende verskeidenheid keuses hê wanneer hulle Dinsdag hul kruisie by stemlokale vir ʼn belangrike algemene verkiesing gaan trek.

Niks minder nie as 26 partye sal in die meeste streke op die stembrief wees; ʼn heeltemal ander vooruitsig as byvoorbeeld in die VSA, Frankryk of Brittanje waar kiesers slegs ʼn handjievol opsies het.

Die grootste stryd gaan waarskynlik woed tussen die Volkspartij voor Vrijheid en Democratie (VVD), die regse Partij voor de Vrijheid (PVV) en die Groenlinks-PvdA-samewerking (GL/PvdA).

Daar is ook verskeie buitengewone partye wat op die stembriewe verskyn. AFP het ʼn paar van hierdie partye se doelwitte gaan navors om te kyk waarvoor hulle staan:

Party vir diere

“Diere is individue met ʼn bewussyn en gevoelens. Hul lewe moet met respek hanteer word,” begin die manifes van die Diereparty.

Dié party se beleid sluit in die verskansing van diereregte in die grondwet, die skep van ʼn gekombineerde departement van gesondheid en diereregte om na menslike en dieregesondheid om te sien, en ondersoek alle kabinetsbesluite vir die invloed daarvan op dierewelsyn.

Die party dring ook op ’n einde aan die veebedryf aan, met ’n “drastiese vermindering” in die getal diere wat vir menslike gebruik doodgemaak word.

Akwariums en sirkusse met diere sal verbied word, met strenger reëls oor dieretuine; “diere is nie snoesige speelgoed nie”, sê die party.

Die “Partij voor der Dieren” voer ook veldtogte oor omgewingsake soos behuising en algemene welsyn.

Dit het byna 400 000 stemme in die 2021-verkiesing gelok, wat die party ses setels in ʼn parlement met 150 setels gegee het.

50Plus-party

Soos die naam aandui, beywer hierdie party hom vir die regte van kiesers van ʼn meer gevorderde ouderdom.

“Die party wil hê dat die pensioenouderdom tot 65 herstel word (dit styg tot 67 in 2024), beperkings op maatskaplike sekerheidsbydraes vir diegene 45 jaar en ouer en die skrap van boedelbelasting.”

50Plus het net meer as 1% van die stemme in die 2021-verkiesing gewen, wat hom een setel in die parlement gee. Die party het voorheen vier setels gehad.

Party vir nuwe generasie

Aan die ander kant van die ouderdom-spektrum is die party vir ʼn nuwe generasie, wat hom vir die Nederlandse jeug beywer.

Gratis openbare vervoer en onderwys, die verlaging van die stem-ouderdom tot 14, en “radikale gelykheid” (oftewel “Smash The Patriarchy”) is van die sleutelpunte van dié party se manifes.

Die party het vier kandidate jonger as 18 op sy kieslys en die gemiddelde ouderdom van sy kandidate is 29,8.

“Hulle glo almal dat dinge in Nederland beter en minder stresvol kan wees,” lui die party se webwerf.

Party vir Sport

Die Party vir Sport is die enigste party wat op “sport, beweging en ʼn gesonde leefstyl vir alle Nederlanders” aandring.

Gratis sportfasiliteite vir diegene jonger as 21, ʼn vermindering in gesondheidsorgbydraes vir “mense wat ʼn gesonde leefstyl handhaaf” en aansporings om werk toe te stap of fiets te ry is sommige van die party se manifesbeloftes.

Die party wil ook verpligte swem in die skoolkurrikulum insluit, met minstens twee uur lange liggaamsopvoedingklasse per week.

Jong leerders sal nie net vir akademiese vaardighede getoets word nie, maar ook oor hoe gereeld hulle oefen.

Nederland met ʼn Plan

Die Nederland met ’n Plan-party wil “meer kleur in die politiek” en “krag deur verskille hê”.

Hy beeld homself as ʼn “jeugbeweging” uit wat ook “die Asiatiese gemeenskap van Nederland ʼn stem wil gee”.

Die party se voornemens sluit in gratis vervoer vir almal, onvoorwaardelike basiese inkomste, gratis kindersorg vanaf die ouderdom van twee, en referendums oor ’n wye verskeidenheid kwessies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

trotsNAMSA ·

Ai, die Hollanders, so prettig !
Lees President Cyril se artikel dan sal julle verstaan dat die Regering die kolonialisme uit Afrika hê.

Jan Jacobs ·

Dis die selfde land wat se mense glo n paar duisende koeie veroorsaak aard verwarming.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.