Stefanos blameer slaappille vir vakerige vertoning

Stefanos Tsitsipas het sleg teen Carlos Alcaraz in die kwarteindstryd van die Franse Ope verloor. (Foto: Jean Catuffe/DPPI via AFP)

Vir Stefanos Tsitsipas moet sy nederlaag teen Carlos Alcaraz in die kwarteindstryd van die Franse Ope allesbehalwe ʼn slaaptydstorie wees.

Die jong Spanjaard het die Griek se tennisstrooihuisie as’t ware weggeblaas om die tweestryd op ʼn drafstap met 6-2, 6-1 en 7-6 te beklink.

Nou meen Tsitsipas dat slaappille dalk die rede vir sy vakerige vertoning kan wees.

“Ek het ʼn paar laataand-wedstryde in aanloop tot die wedstryd gehad. Weliswaar nie superlaat nie, maar laat genoeg om my slaappatroon te ontwrig,” het hy gesê.

Volgens die Griek sal hy beslis nie weer slaappille vóór belangrike wedstryde neem nie – dit is net nie voordelig wanneer jy op en wakker op die baan wil wees nie.

“Om te slaap en jou batterye te herlaai is baie belangrik wanneer jy aan ʼn Grand Slam-toernooi deelneem. Ek het al vantevore in ʼn soortgelyke slaappil-slaggat getrap en die telling ná die eerste twee stelle was presies dieselfde as nou.”

Alcaraz was die ratsheid vanself terwyl Tsitsipas met ʼn loodvoet-vertoning vorendag gekom het – hy het met sy afslaanwerk gesukkel en ʼn spul ongedwonge foute gemaak.

“Die eerste twee stelle was glad nie vir my lekker nie. Dit het gevoel of ek aan die slaap is. Ek hoop van harte dat dit nooit weer met my sal gebeur nie.”

Volgens die amptelike ATP-punteleer is die 24-jarige Athener die vyfde beste speler op die internasionele verhoog en hy droom beslis daarvan om ʼn paar ranglysspronge te maak.

“Ek is ʼn gebore kampioen; dit is iets wat binne my is. Ek sal hard werk om eendag die wêreld se topspeler te wees,” het Tsitsipas in ʼn vorige onderhoud gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.