Sterftes ná trein ontspoor

Die trein ná dit ontspoor het. (Foto: Twitter)

Drie mense, onder wie die treindrywer en kondukteur, is dood toe ’n trein Woensdagoggend in Aberdeenshire in die noordooste van Skotland ontspoor het.

Die nasionale spoorwegoperateurmaatskappy, Scotrail, het bevestig dat die treindrywer, die kondukteur en ’n passasier omgekom het toe die trein by Stonehaven ontspoor het ná swaar reën in die streek.

Nog ses passasiers is ná die voorval na ’n hospitaal geneem vir mediese behandeling hoewel hulle nie ernstige beserings in die voorval opgedoen het nie.

BBC berig die trein was vanaf die Skotse stad Aberdeen op pad na die stad Glasgow toe die voorval plaasgevind het.

Die nooddienste op die toneel. (Foto: Derek Ironside/Newsline-media via AP)

Volgens ’n bron in die spoorwegbedryf in Skotland is die 06:38-rit aanvanklik vertraag weens oorstromings op die spoorweglyn. Die treindrywer het toe met die beheerkamer kontak gemaak en toestemming gevra om van treinspore te verskuif. Die trein het oorgeskuif na treinspore wat nié oorstroom was nie en voortgegaan met die rit voordat dit later ontspoor het.

Maroela Media het vroeër berig minstens ses ambulanse, ’n lugambulans en verskeie polisievoertuie het hulle Woensdagoggend na die toneel gehaas waar ’n groot rookwolk in die lug gehang het.

Die trein se lokomotief en minstens drie treinwaens het na wat verneem word die treinspoor verlaat en teen ’n wal afgegly waarna dit aan die brand geslaan het. Daar word vermoed dat grondverskuiwings moontlik die oorsaak kon gewees het.

Die nooddienste op die toneel. (Ross Johnston/Newsline-media via AP)

Die Verenigde Koninkryk (VK) se ondersoektak vir spoorongelukke moet egter nog dié weergawe van gebeure nagaan en bevestig.

SkyNews berig koningin Elizabeth het intussen haar medelye namens die hele koninklike familie met die slagoffers van die voorval betuig.

Volgens Boris Johnson, die Britse eerste minister, is die voorval veral skokkend aangesien ongelukke op die VK se spoornetwerk selde gebeur. Die laaste ernstige voorval van dié aard in die VK het in 2007 in Cumbria in die noordweste van Engeland plaasgevind.

“Die belangrikste kwessie nou is dat die Britse vervoerpolisie, aan die stuur van die ondersoek, vasstel wat presies gebeur het en dat ons almal saamwerk om seker te maak niks soortgelyks gebeur ooit weer nie,” het Johnson gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.