Suez-kanaal maak meeste wins nóg

(Foto: Suez-kanaalowerheid/AFP)

’n Rekord getal skepe het die afgelope jaar deur die Suez-kanaal in Egipte gevaar.

Daar is tussen Julie 2021 en Junie 2022 (Egipte se boekjaar) sowat 1,32 miljard ton vrag deur die kanaal verskeep, het Osama Rabie, hoof van die Suez-kanaalowerheid (SCA), gesê.

’n Totale inkomste van $7 miljard (sowat R114 miljard) is aangeteken. Dit is meer as ʼn vyfde hoër as die vorige boekjaar (Julie 2020 tot Junie 2021) se $5,8 miljard (sowat R95 miljard) in transito-inkomste. Dit is ook die hoogste inkomste wat nog nóg aangeteken is.

Hierdie rekord is aangeteken ten spyte van die impak van die Covid-19-pandemie sowel as versperring van die kanaal in Maart verlede jaar.

Maroela Media het vroeër berig die MV Ever Given, ʼn Taiwannese houerskip, het die kanaal versper en in die proses onberekenbare skade aan die wêreldekonomie aangerig. Honderde skepe moes omdraai weens die versperring.

Die Suez-kanaal wat die Rooi See en die Middellandse See verbind, is verantwoordelik vir ongeveer tien persent van die wêreldwye maritieme handel. Dit is ook ʼn bron van broodnodige buitelandse valuta vir Egipte.

In April vanjaar het die kanaal sy hoogste maandelikse inkomste nóg van $629 miljoen (sowat R10 miljard) aangeteken, ondanks die styging in oliepryse weens Rusland se inval in Oekraïne. Die SCA was ook genoop om twee keer vanjaar die tolgeld vir transito-vaartuie, insluitend brandstoftenkwaens, te verhoog.

Terwyl Egipte onder toenemende ekonomiese druk weens die oorlog verkeer, het buitelandse valutareserwes tussen Maart en Mei vanjaar met sowat $5,5 miljard (sowat R90 miljard) gedaal, voordat dit op $35,5 miljard (sowat R581 miljard) te staan gekom het.

Stygende kommoditeitspryse wêreldwyd het boonop Egiptiese inflasie tot ʼn driejaarhoogtepunt van 15,3 % in Junie vanjaar opgestoot.

Aan die einde van Maart vanjaar het die Sentrale Bank van Egipte toegelaat dat die Egiptiese pond teen die dollar depresieer, wat veroorsaak het dat dit oornag ongeveer 18 % van sy waarde verloor het.

In ʼn poging om die ekonomiese gevolge te versag, het Kaïro blitsig ʼn nuwe lening van die Internasionale Monetêre Fonds aangevra en miljarde dollar se beleggings van Saoedi-Arabië en Katar ingevorder.

Verlede week het Egipte aangekondig dat hy $500 miljoen (sowat R8 miljard) van die Wêreldbank gaan ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.