Switserse skieter in hegtenis geneem

Die verdagte is na ‘n massiewe soektog deur die Switserse polisie in hegtenis geneem. (Foto: Fabrice Coffrini / AFP)

Die verdagte wat daarvan verdink word dat hy Maandag twee mense in die Switserse dorp Sion doodgeskiet en ʼn derde persoon beseer het, is laatmiddag dieselfde dag deur die polisie in hegtenis geneem.

Maroela Media het vroeër berig dat die polisie ʼn massiewe soektog na die 36-jarige verdagte van stapel gestuur het nadat twee mense op afsonderlike plekke in die suidelike dorp Sion vermoor is.

Misdaadvoorvalle soos hierdie is skaars in dié gegoede gebied.

Die Valais-polisie het intussen bevestig dat die slagoffers ʼn 34-jarige vrou en ʼn 41-jarige man is.

Die vrou, wat eerste vermoor is, is glo ʼn geruime tyd deur die slagoffer geteister. Hy wou na bewering in ʼn verhouding met die vrou wees.

Die streekskoerant Le Nouvelliste berig dat regsgedinge in dié verband aanhangig gemaak is.

Die tweede slagoffer was die bestuurder van die plaaslike maatskappy waar die verdagte gewerk het. ʼn 49-jarige ontvangsdame by die maatskappy is ook in die skietery beseer.

Die verdagte se naam is nog nie deur die polisie bekend gemaak nie.

Die moordondersoek duur intussen voort.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

M ·

Flink, effektief en vinnig suksevol !!! Ek wens….. ag, los dit maar … !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.