Switserse polisie soek ‘gevaarlike’ skieter ná twee sterf

Die Switserse polisie het Maandagmiddag nog steeds na die gewapende aanvaller gesoek. (Foto: Fabrice Coffrini / AFP)

Die Switserse polisie is op soek na ʼn gewapende man wat twee mense Maandag in die suidelike dorp Sion doodgeskiet en ʼn derde persoon beseer het.

Die 36-jarige man, wat deur die polisie as uiters gevaarlik beskryf word, is vermoedelik aan sy slagoffers bekend.

ʼn Massiewe polisie-operasie was teen Maandagmiddag steeds onderweg om die man op te spoor.

Volgens die polisie het die man kort voor 08:00 op mense in die skilderagtige dorpie in die Valais-kanton in die Alpe losgebrand. Die twee voorvalle het kort na mekaar op twee afsonderlike plekke plaasgevind.

Twee mense is dood terwyl ʼn derde persoon beseer is.

Die polisie kon nog nie ʼn motief vir die dubbelmoord – wat skaars is in dié gebied – vasstel nie.

“Voorlopige inligting dui egter daarop dat die skieter sy slagoffers ken.”

Talle swaargewapende polisiebeamptes het die snelweg na Sion gepatrolleer en die dorp gefynkam.

Die soektog is steeds aan die gang en die polisie het inwoners intussen gewaarsku om nie te probeer om die aanvaller te keer of te nader indien hulle hom gewaar nie.

Die name en ouderdomme van die slagoffers is nog nie bekend nie.

Sake van moord is egter reeds aanhangig gemaak en word tans deur die Valais-staatsaanklaer se kantoor ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.