Sydney vier fees na 106 dae van inperking

Talle inwoners van Sydney het die opheffing van die streng inperkingsmaatreëls bier in die hand gevier. (Foto: Saeed Khan/AFP)

Uitgelate inwoners van Sydney in Australië het die opheffing van byna vier maande se koronavirusinperkings Maandag gevier en ʼn tydperk van “bloed, sweet en geen bier nie” einde ten laaste agter die rug gekry.

Sydney se meer as vyf miljoen inwoners is onderwerp aan 106 dae van inperking wat ingestel is om die verspreiding van die hoogs aansteeklike Delta-variant te stuit.

Nuwe infeksies hou aan daal – Nieu-Suid-Wallis het Maandag 496 nuwe gevalle bevestig – en meer as 70% van almal ouer as 16 is nou ten volle ingeënt.

Die stad het die spinnerakke afgestof en alles en almal – van kroeë, restaurante tot kafees – het hul deure heropen vir almal wat kan bewys hulle is ingeënt.

Inwoners het nie op hulle laat wag nie en het ten spyte van die reënweer en koue sommer vroeg al aangemeld vir ʼn paar koue biere.

“Die eerste ding wat ek gaan doen, is om vir my ouers te gaan kuier. Wag nee, nie my ouers nie. Ek gaan Lakemba toe om ʼn Libanese bord kos te kry en dán gaan ek vir my ouers kuier,” het Peter Morgan, ʼn 35-jarige inwoner van Sydney, geskerts.

Oor die stad heen het talle mense by haarkappers aangemeld om die brouwerk wat hulle oor die laaste drie maande tuis aan hul hare aangerig het, te laat regkap.

“Ek kon nie wag om hier in te stap en my hare te laat versorg nie,” sê Brett Toelle, ʼn salonklant in Surry Hills wie se hare 15 weke gelede die laaste keer ʼn skêr gesien het. “Dit is die langste wat ek nog ooit sonder ʼn haarsny was.”

Haarkappers was van die gewildste plekke nadat mense maande lank tuis hul hare moes versorg. (Foto: Steven Saphore/AFP)

Vir baie inwoners was die einde van die afsonderingstyd ook die gulde geleentheid om die winkels in te vaar. Teen middernag was daar reeds honderde mense in ʼn Kmart-winkel in die westelike buurt Mount Druitt.

Ander mense het die geleentheid aangegryp om weer lewe in hul sakeondernemings te blaas.

“Hier heers vanoggend ʼn wonderlike atmosfeer,” sê Hanna Simmons, eienaar van Gordon’s Cafe in die buurt Clovelly. Simmons se onderneming het oorleef danksy die wegneemetes wat sy begin bedien het.

“Die buitesitplek is nog bietjie grou, maar dis oukei. Ons is baie opgewonde om terug en aan die gang te wees.”

Skole, winkels, salonne en kantore is sedert Junie vir alle nie-noodsaaklike werkers gesluit en daar was ongekende beperkings op persoonlike vryheid.

Inwoners is nie toegelaat om verder as vyf kilometer van die huis af te reis nie, hulle mag nie familie besoek het nie, sekere sportsoorte beoefen het of begrafnisse bygewoon het nie.

Australië het deur die pandemie infeksies suksesvol beheer deur sy grense uiters streng te beheer, inperkingsmaatreëls in te stel en aggressief te toets en nasporings te doen. Die Delta-variant het egter enige droom van “Covid-zero” in die wiele gery – minstens in die groot stede van Melbourne en Sydney wat nou eerder mik daarna om “saam met Covid te leef”.

“Dit is ʼn groot dag vir ons staat,” het Dominic Perrottet, premier van Nieu-Suid-Wallis, gesê.

“Na 100 dae van bloed, sweet en geen bier nie, verdien julle dit.”

Eerste minister Scott Morrison het die dag verwelkom as een om goed te vier wat mense vantevore as vanselfsprekend aanvaar het.

“Om saam met vriende en familie te wees, om jou hare te laat sny, saam aan te sit vir ete, ʼn uitstappie na die kroeg om saam met vriende ʼn bier te drink.”

Daar is steeds beperkings op massabyeenkomste en internasionale grense en skole gaan nog vir ʼn paar weke nie ten volle heropen nie. Benewens dié beperkings, is die lewe stadigaan besig om na normaal terug te keer. Klein groepies mense drom weer by bushaltes saam en die gedruis van die verkeer word al hoe harder.

Ten spyte van die feesvieringe, is daar steeds vrese dat die heropening tot ʼn styging in infeksies gaan lei. Die Australiese mediese vereniging het gewaarsku dat die heropening geleidelik sal moet geskied, of hospitale kan oorweldig word ten spyte van hoë inentingsyfers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

battleaxe ·

Ek wens oom Cyril wil ophou om na nonsens te luister in sy kabinet en Corona council. Maak oop die land dat ons ekonomie kan verbeter en Mense weer kan werk soos die Toerisme en lugrederye sodat ons kos op die tafel kan dit en ons huise en karre kan behou want dis mos ons reg.!

Rooikopheks ·

Alles is oop, maar die mense van ons land wil nie ingeënt word nie. 70% van Australia se mense is al ingeënt, uitstekend!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.