Talle musiektreffers van TikTok verwyder

TikTokkers gaan vir eers Taylor Swift se musiek op dié platform moet groet. (Foto: Michael Tran/AFP)

Ywerige TikTokkers gaan dalk binnekort nie meer dansies op die deuntjies van bekende kunstenaars soos Taylor Swift, Lady Gaga, Ariana Grande en vele meer kan doen nie.

Universal Music Group, die platemaatskappy wat van die grootste name in veral Amerikaanse musiek verteenwoordig, het Dinsdag in ʼn ope brief op sy webblad aangekondig dat hy sy liedjiekatalogus op 31 Januarie van TikTok gaan onttrek.

TikTokkers gaan van Woensdag af moontlik nie meer toegang hê nie tot musiek van BTS, Black Pink, Elton John, The Beatles en selfs Sophie Ellis-Bextor se “Murder on the Dancefloor”, wat onlangs ʼn groot treffer op TikTok was.

Volgens Universal volg dié besluit nadat hulle nie ʼn nuwe lisensieooreenkoms met die sosialemediaplatform kon bereik nie.

Die musiekreus voer verder aan dat daar nie ooreengestem kon word oor gepaste vergoeding vir kunstenaars en liedjieskrywers, die beskerming van menslike kunstenaars teen die skadelike uitwerking van kunsmatige intelligensie (KI), of aanlyn veiligheid vir TikTok se gebruikers nie.

Volgens Universal het TikTok met “onverskilligheid en toe met intimidasie” gereageer toe daar vir soortgelyke ooreenkomste as dié wat die platemaatskappy met ander sosialemediaplatforms het, gevra is.

“TikTok probeer uiteindelik om ʼn musiekgebaseerde onderneming te bou, sonder om billike vergoeding vir die musiek te betaal,” lui die ope brief.

“TikTok laat toe dat die platform oorstroom word met KI-gegenereerde opnames, sowel as die ontwikkeling van nutsmiddels om selfs KI-musiekskepping op die platform moontlik te maak, te bevorder en aan te moedig.”

Universal voer ook aan dat TikTok ʼn ooreenkoms probeer “afdwing” het, wat minder werd as die vorige finansiële jaar sʼn was, en “nie TikTok se eksponensiële groei weerspieël nie”.

TikTok het Dinsdagaand op Universal se bewerings gereageer met hul eie verklaring:

“Dit is hartseer en teleurstellend dat die Universal Music Group hul eie gierigheid bo die belange van hul kunstenaars en liedjieskrywers gestel het,” het die verklaring begin.

“Ondanks Universal se valse bewerings en retoriek, bly die feit dat hulle gekies het om weg te stap van die kragtige ondersteuning van ʼn platform met meer as ʼn miljard gebruikers wat dien as ʼn gratis promosie- en ontdekkingsmedium vir hul sangers se talent.”

Volgens TikTok is daar suksesvolle ooreenkomste met talle ander platemaatskappye bereik.

“Dit is duidelik dat Universal se selfdienende optrede nie in die beste belang van kunstenaars, liedjieskrywers en aanhangers is nie.”

Bykomende bronne: BBC, The Hollywood Reporter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

JohanR ·

Sal nie weet hoe siek, sat en dik ek is on die vrou se bakkies ooral te sien nie!

Cecilia ·

Stem saam Ronel, vir my part kan hulle Tik Tok, Instagram, Facebook, twitter en als afhaal, miskien dan sal daar weer meer familie tyd wees en gesinne weer meer tyd kan saam spandeer om n braai vuur of eetkamer tafel of in sitkamer onder om 24 hours op hulle fone te wees, dis so hartseer!!!

George ·

Tog lewer julle almal kommentaar hier. You Go TayTay, looi nog n paar miljoen los! TikTok is lekker, pret en plesierig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.