Taylor Swift maak musiekgeskiedenis met ‘Midnights’

Taylor Swift se jongste album maak musiekgeskiedenis. (Foto: Taylor Swift/Instagram)

Die Amerikaanse popsanger Taylor Swift het Maandag musiekgeskiedenis gemaak en die eerste kunstenaar nóg geword wat gelyktydig die eerste tien plekke op die Billboard Hot 100-musiektrefferlys beklee.

Al tien liedjies kom uit Swift se splinternuwe en tiende album, Midnights, wat op 21 Oktober vanjaar bekendgestel is.

Volgens Billboard – wat die toptrefferparade in die VSA is –  is dit die eerste keer in sy bestaan van 64 jaar dat ʼn enkele kunstenaar al die plekke op die toptien geëis het.

Swift het nou die hiphop-kunstenaar en kletsrymer Drake, wat in September 2021 nege enkelsnitte op die Billboard toptien gehou het, amptelik verbygesteek.

Die eerste enkelsnit in Swift se jongste album, “Anti-Heroes”, beklee sedert Maandagaand die eerste plek op die Billboard-trefferparade en is die 11-malige Grammy-wenner se negende no. 1-treffer.

“Tien uit tien van die Hot 100? Met my tiende album? Ek is in ʼn warboel,” het Swift Maandag aan haar 91 miljoen volgelinge getwiet, met ʼn verwysing na haar toegewyde aanhangerbasis se voorliefde om na versteekte leidrade in haar liedjies te soek.

Maroela Media het vroeër berig dat Midnights met sy uitreiking ook soveel aanhangers na musiekstromingsdienste gelok het dat die stromingsreus Spotify in die proses platgetrek is. Dié tegniese glips was egter gelukkig van korte duur en is binne ’n uur nadat die eerste luisterprobleme kop uitgesteek het, opgelos.

Volgens Swift vertel dié album se 13 liedjies “die verhaal van 13 slapelose nagte wat deur my lewe versprei is”.

Die 32-jarige sanger en liedjieskrywer keer ook terug na die pop-genre met haar jongste album en het haar jarelange medewerker Jack Antonoff – wat ook groot dele van haar vorige twee albums help skryf en vervaardig het– ingespan om Midnights te vervaardig.

Sy het op sosiale media verder verduidelik dat onderwerpe soos liefde, selfhaat, wraakfantasieë, die idee van “wat kon gewees het” en om “uitmekaar te val” in Midnights aangepak word.

Dié album het ook wydverspreide lof van musiekkritici ontvang, van wie die meeste die gedempte produksie en Swift se “romantiese sangstyl” aangeprys het.

Bykomende bronne: Rolling Stone, CBS News.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Vonkprop ·

Ai jinne maar ons mensdom is darem maar met min tevrede. Afgode in ‘n ander vorm.

Pieterbusa ·

Dis ‘n besonderse prestasie. Hoe jy ookal daarna kyk. Baie geluk Taylor

Elmarie ·

Nou nie juis ‘n “fan” maar kry lekker want ene Kanye West is seker baie ontevrede. Sal hy weer by die Grammys gaan galbraak as sy kry?

Nierkie ·

En dit alles oor streaming. Slegs ‘n paar jaar gelede sou dit onmoontlik gewees het toe CD verkope nog iets beteken het. Voorheen het jy jou geld op ‘n fisiese album spandeer en nie net op jou subskripsie by Itunes of Spotify nie. Maar Taylor is baie talentvol en sy verdien al die accolades.

Marthinus W ·

Soos met Bob Dylan, word Swift se lirieke nou op universiteit [in Amerika] bestudeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.