Teater wat talle huisves in Oekraïne verwoes

‘n Gedeelte van die teater is verwoes. (Foto: Pavlo Kyrylenko/Twitter)

Oekraïne het Rusland daarvan beskuldig dat hy Woensdag ʼn teater in die stad Marioepol, waar meer as ʼn duisend Oekraïners geskuil het, gebombardeer het.

Volgens ʼn satellietbeeld wat die private satellietmaatskappy Maxar gedeel het, is die woord “kinders” in Russies op die grond aan weerskante van die gebou geskryf.

“Die enigste woord waaraan ek kan dink om vandag se gebeure te beskryf, is volksmoord. Dit is volksmoord op ons mense,” het Vadim Boychenko, burgemeester van die stad, gesê.

“Ons sukkel om dit te verstaan, ons weier om dit te glo, ons wil ons oë toemaak en die nagmerrie vergeet.”

Meer as 2 000 mense is reeds in Marioepol dood sedert aanvalle op sleutelpunte in die stad geloods is.

Amptenare het ʼn foto van die jongste verwoesting gedeel. Dit wys hoe dele van die gebou in puin lê, terwyl ʼn wit rookwolk dit omhul.

“Dit is onmoontlik om die woorde te vind om die vlak van wreedheid te beskryf waarmee die Russe vreedsame inwoners van ʼn Oekraïense stad vernietig,” lui ʼn amptelike verklaring.

Rusland se departement van verdediging het ontken dat sy magte die teater geteiken het, maar beweer dat lede van Oekraïne se verregse Azof-bataljon die gebou geteiken het.

Die organisasie Human Rights Watch het in ʼn verklaring gesê dat hy nie die moontlikheid kan uitsluit dat ʼn militêre teiken in die omgewing van die teater is nie. Die organisasie het wel bevestig dat minstens 500 mense tydens die aanval in die teater geskuil het.

“Hierdie voorval wek ernstige kommer oor wat presies die beoogde teiken was, aangesien burgers in die stad reeds vir dae lank onder beleg is sonder krag, water en verwarming,” het Belkis Wille, senior krisis- en konfliknavorser by Human Rights Watch, gesê.

“Kinders” is in Russies op die grond aan weerskante van die gebou geskryf. (Foto: Satellite image/Maxar Technologies/AFP)

‘Oorlogsmisdadiger’

Oekraïense pres. Wolodimir Zelenski het Woensdag die Amerikaanse kongres toegespreek en aan amptenare ʼn video gewys wat die impak van die voortslepende konflik op die land en sy mense het.

Zelenski, geklee in militêre groen, het gepleit dat Washington en sy Navo-bondgenote ʼn vlugbeperking instel sodat “Rusland nie ons stede verder kan terroriseer nie”.

Die Amerikaanse president, Joe Biden, en Navo het die afgelope tyd Zelenski se pleidooie vir hul betrokkenheid teengestaan en gewaarsku dat dit tot verhoogde konflik kan lei.

Biden het Woensdag aangekondig dat die VSA se jongste militêre hulppakket aan Oekraïne altesame $1 miljard beloop. Die VSA sal ook dié voormalige Sowjetstaat help om langafstandwapens vir vliegtuie te bekom.

Biden het opnuut die Russiese president, Wladimir Poetin, se optrede veroordeel en hom as ʼn “oorlogsmisdadiger” bestempel.

Die Kremlin sê dié opmerking is “onaanvaarbaar”.

“Dit is onaanvaarbaar vir die president van ʼn land, wie se bomme duisende mense wêreldwyd doodgemaak het, om dit te sê.”

Brittanje se diplomatieke missie na die VN het ook getwiet dat Rusland “oorlogsmisdade pleeg en burgerlikes in Oekraïne teiken”.

Dit kom nadat die Britse regering ʼn noodvergadering van die VN se veiligheidsraad aangevra het oor die verslegtende humanitêre situasie in Oekraïne.

“Rusland se onwettige oorlog teen Oekraïne is ʼn bedreiging vir ons almal.”

Poetin het intussen daarop aangedring dat die inval in Oekraïne “suksesvol voortgaan” en bygevoeg dat hy nie sal toelaat dat Oekraïne as verskoning gebruik word om “aggressiewe optrede teen Rusland van stapel te stuur nie”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Marius ·

Net ruggraatlose skuim sal kinders en hospitale aanval. Hulle benadeel die hele wêreld ekonomie. Dit tyd dat hul in die bek geruk word. Daar is nie meer plek in die wêreld vir diktators nie.

Kokerboom ·

Ek wonder wat Putin dink hy bereik deur alles so te verwoes? Skaamteloos, gevoelloos en wreedaardig!!G’n wonder ANC tree ook so op..hul leermeesters.

Henri ·

Human Rights Watch is ‘n klug. Die hele Russiese inval in Oekraïne is ‘n verwoede skending van ‘n soewereine land se mense se regte. Hoekom reik hulle dus nie hieroor ‘n verklaring uit nie?

KatjieDeKat ·

My arme dierbare jong vriendin van die Ukraine, sy moet so bekommerd wees oor haar vriende nog daar. Gelukkig het sy en haar man en kindertjies n week voor die inval getrek na Yalta in die Crimean Peninsula, waar hulle veiliger behoort te wees. Haar suster en weduwee moeder moes uit Kharkyiv vlug in PoIe in, en het in Duitsland gekom. En ek dink aan al die diere wat uit noodsaak agtergelaat moes word. Beyond heartbreaking.

Marthinus W ·

n Kommentator op Maroela het onlangs geskryf dat hy nie alles glo wat die media uitreik nie, veral omdat die oorlog so gepolariseer is: die HELE Westerse media ondersteun Oekraine, en Rusland word GEEN kans gegee om hulself te verdedig nie. [Ek moet erken: Maroela doen gedurende hierdie krisis nogal goed, om ons wat anders dink die kans te gee. Daarvoor is ek dankbaar.]

George W Bush het gespog dat dit baie maklik is om n oorlog te begin: hy verf n vliegtuig wit, met die letters “UN” in swart daarop, en stuur dan een van sy eie vliegtuie om dit af te skiet. In weermagtaal noem hulle dit n “False Flag”. Daar is voldoende bewyse [op Amerikaanse en selfs Nederlandse webwerwe] dat Oekrainse ver-regse sulke aksies uitvoer, en die skuld op Rusland pak. Maar vir hulle is dit suiwer oorlogvoering. Rusland het twee dae gelede die VN ingelig dat hulle juis van hierdie mense gearresteer het, met 80 ton se ammonia by hulle.

Anna-marie ·

Mense glo net wat die hoofstroommedia vir hulle vertel. Arme stommerike.

Misky ·

Ek het dieselfde gehoor en vat alles maar met knippie sout deesdae as ek nie eerstehandse inligting kry of self kan sien nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.