Tiger Woods in ernstige motorongeluk  

Die ongelukstoneel. (Foto: Patrick T. FALLON/AFP)

Tiger Woods het ernstige beserings aan sy bene opgedoen toe sy motor die pad verlaat en verskeie keer gerol het.

Wetstoepassingsbeamptes wat op die ongelukstoneel in die Palos Verdes-omgewing in Los Angeles afgekom het, meen Woods (45) is baie gelukkig om die ongeluk te oorleef het. Die steil stuk pad waar die ongeluk plaasgevind het, is berug vir motorongelukke.

Woods was blykbaar nie onder die invloed van dwelms of alkohol tydens die voorval wat Dinsdag vroegoggend plaasgevind het nie en hy moes ʼn operasie ondergaan ná die botsing. Daar word wel vermoed dat hy die spoedgrens oorskry het.

Carlos Gonzalez, die eerste beampte op die toneel, het gesê Woods was in die wrak vasgekeer. Hy was by sy volle bewussyn en kon homself identifiseer. Meganiese toerusting is gebruik om Woods uit die wrak te bevry voordat hy na ʼn hospitaal gehaas is.

Foto: (AP Photo/David J. Phillip)

“Ons wag op verdere inligting ná die operasie. Namens die PGA-toernooi en ons spelers wil ons sê, Tiger is in ons gebede en hy sal ons volle ondersteuning hê tydens sy herstelproses,” het Jay Monahan, kommissaris van die PGA-toer, in ʼn verklaring gesê.

Woods, een van die suksesvolste gholfspelers van alle tye, het onlangs vir ʼn vyfde keer ʼn rugoperasie ondergaan. Hy was juis onseker oor die moontlikheid dat hy in die Amerikaanse Meesterstoernooi wat in April begin in aksie sou wees weens sy rugbesering.

Woods het in 2019 sy vyfde Meesters gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Surfer ·

Tiger Woods land in die Woods met sy motor. Hoop hy word gou gesond.

ES ·

Dis ongelooflik maklik om beheer te verloor van jou motor teen so afgrond, selfs al ry jy nie vinnig nie. Selfde het met my gebeur paar jaar terug en ek het nie vinniger as 70 km/h gery nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.